Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB ‘moet optree’ teen Dlamini

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) vra die openbare beskermer (OB) om op te tree teen Bathabile Dlamini, die voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling en haar voormalige departement, oor “twyfelagtige kontrakte” aan diensverskaffers.

Die organisasie het Dinsdag luidens ’n verklaring gesê die kontrakte is onregmatig, nie deel van die begroting nie en “opsetlik ontwerp om die surplusfondse van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) op te slurp”.

Bathabile Dlamini, die voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling.Foto: Argief

Dié kontrakte spruit uit die Mikondzo Event Management Services-projek en die Integrated Community Registration Outreach Programme (ICROP) wat albei deur Sassa bestuur word.

Die projekte is in Januarie en Februarie 2016 aan sakeondernemings geadverteer.

Die hoofbegunstigde van die kontrakte was Azande Consulting BK, wat as die enigste geakkrediteerde verskaffer (van 23 aansoeke) vir die ICROP-projek opgetree het. Azande Consulting BK was ook een van slegs twee verskaffers vir die Mikondzo-projek.

Die ICROP-pryse het tussen R393 miljoen en R488 miljoen gewissel, terwyl Mikondzo volgens Outa geen beduidende prys gehad het nie.

Outa het tussen Junie 2016 en Augustus 2017 betalings van tot R235 miljoen aan Azande Consulting BK nagespoor.

Outa glo Dlamini het die parlement in haar antwoorde oor dié kontrakte mislei om “Sassa se verkeerdhede toe te smeer”.

“Die ware bekommernis is nooit aangepak nie: Waarom het Sassa kontrakte aan enkele verskaffers toegeken, in plaas daarvan om die kontrakte tussen ’n groep diensverskaffers te versprei?” lui die verklaring.

Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB).

Outa se ondersoek toon albei tenders is toegestaan sonder die regmatige tenderprosesse. Die ondersoek toon verder die uitgekontrakteerde dienste was onnodig.

Outa vra die OB om die saak te ondersoek en Dlamini tot verantwoording te roep, sodat die diensverskaffers die geld kan terugbetaal.

“Voormalige minister Bathabile Dlamini het haar mag misbruik deur openbare fondse te vermors en met die lewens van 17 miljoen van Suid-Afrika se weerloses te dobbel. Haar onverantwoordelike, ongrondwetlike gedrag en minagting vir haar verantwoordelikhede as ’n minister vra ’n sterk bestraffende optrede,” sê Dominique Msibi, portefeulje-direkteur van Outa se spesiale projekte.

Meer oor:  Sassa  |  Outa  |  Bathabile Dlamini  |  Openbare Beskermer (Ob)
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.