Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘OB ’n verleentheid vir SA,’ meen opposisiepartye
Adv. Busisiwe Mkhwebane Foto: Daily Sun

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), is ’n verleentheid vir Suid-Afrika en die jongste kostebevel teen haar “ ’n skande” omdat belastingbetalers weer daarvoor sal moet opdok.

So het twee opposisiepartye Donderdag gereageer nadat Mkhwebane nog ’n opstopper in die hof gekry het toe regter Lettie Molopa-Sethosa ten gunste van pres. Cyril Ramaphosa beslis het.

Dit is in die aansoek waarin die hooggeregshof in Pretoria ’n verklarende bevel moes maak dat Ramaphosa wel gehoor gegee het aan die OB se voorgestelde regstellende optrede teen Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, in haar verslag oor die sage rondom Ivan Pillay se vervroegde aftrede. Sy het bevind Gordhan het die wet oortree deur Pillay, ’n senior amptenaar van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, se vroeë aftrede in 2010 goed te keur. Hy was toe nog die minister van finansies.

Adv. Paul Hoffman, direkteur van Accountability Now, sê die jongste uitspraak is “nog ’n spyker in haar doodskis”.

Die hof het gelas dat die OB en die EFF, wat Mkhwebane in die aansoek gesteun het, die regskoste moet betaal.

Dit is die sewende uitspraak teen Mkhwebane.

Sy bevind haar Maandag weer in die hof in die dringende interdikaansoek waarin Ramaphosa vra dat die remediërende aanbevelings in haar verslag oor die skenking van R500 000 van Bosasa – vir sy 2017-veldtog om president van die ANC te word – teen hom opgeskort word, hangende die afhandeling van sy hersieningsaansoek.

Die presidensie het luidens News24 Donderdag ook die uitspraak verwelkom, terwyl die OB se kantoor aangedui het dat sy dit eers wil bestudeer.

Die EFF is egter op die oorlogspad en meen die jongste uitspraak skep ’n situasie waar die OB se magte opgeskort kan word.

“Dan is daar ook die idee dat Pravin Gordhan bo die wet verhewe is. En dat mense wat ongemaklik is met die OB se remediërende aanbevelings dit net op hersiening kan neem wetende dat die aanbevelings opgeskort gaan word. Om aansoek te doen vir hersiening, skort nie remediërende aanbevelings op nie. En in hierdie geval is dit ook nie bewys dat daar buitengewone omstandighede was nie. Hoekom word Gordhan anders behandel?”

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê die uitspraak wys opnuut hoe onbevoeg Mkhwebane is en hoe sy ’n verleentheid vir Suid-Afrika geword het.

Met die een hofsaak ná die ander wat die OB met koste verloor, word sy nou self een van die groot vermorsers van belastinggeld
Pieter Groenewald

“Die OB is juis daar om die publiek te beskerm teen die misbruik van hul belastinggeld, maar met die een hofsaak ná die ander wat die OB met koste verloor, word sy nou self een van die groot vermorsers van belastinggeld.

“Die regter se uitsprake dat Mkhwebane se optrede in die saak die verstand te bowe gaan, is ’n refleksie van haar algehele onbevoegdheid en onbekwaamheid en maak dit duidelik dat sy nie eenvoudige regsbeginsels en prosedures verstaan nie. As Mkhwebane enigsins nog haar eer, en dié van die kantoor van die OB wil red, moet sy die regte ding doen en bedank.”

Mkhuleko Hlengwa, IVP-woordvoerder, het Mkhwebane se optrede in die aansoek as “ ’n heksejag” en “groot bron van kommer vir hierdie allerbelangrike hoofstuk 9-instelling” beskryf.

Hy meen die jongste kostebevel teen haar is “ ’n skande” omdat belastingbetalers weer eens daarvoor moet opdok.

Adv. Paul Hoffman, direkteur van Accountability Now, sê die jongste uitspraak is “nog ’n spyker in haar doodskis”.

“Dit wys weer dat sy in diep water is en nie verstaan wat haar werk behels nie.”

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, sê dit gaan nou nie meer oor die reg of regsprosesse nie, maar eerder oor politiek.

“Die OB het ’n politieke rolspeler geword en vat deur die howe die houe vir die politieke oorlewing van die Zuma-faksie in die ANC waar ek meen sy haar bevind.

“Vir dié faksie gaan dit om oorlewing omdat hulle alles het om te verloor. Die uitspraak is daarom net ’n taktiese terugslag. Dit is egter die begin van ’n baie vuil en lelike stryd.”

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Ob  |  Ob T. Ramaphosa  |  Cr17-Veldtog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.