Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB-ondersoek: Gordhan kry uitstel tot 3 Mei

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het nou tot volgende maand om ’n beëdigde verklaring en ondersteunende dokumente aan die openbare beskermer (OB) te verskaf vir haar ondersoek na die beweerde “rogue unit” in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, het Dinsdag ’n aansoek om uitstel van Gordhan toegestaan.

Die aanvanklike sperdatum was Dinsdag.

Mkhwebane ondersoek bewerings dat Gordhan as SAID-kommissaris onbehoorlik opgetree het, die etiese gedragskode vir lede van die uitvoerende gesag geskend het en by onreëlmatighede of onwettige aktiwiteite betrokke was ten opsigte van dié omstrede ondersoekeenheid van die SAID.

Adv. Busisiwe MkhwebaneFoto: DAILY SUN

Mkhwebane het Dinsdag in ’n verklaring gesê Gordhan het nou tot 3 Mei kans om die dokumente aan haar te verskaf.

Gordhan het volgens haar uitstel gevra omdat die SAID eers regsadvies wil inwin oor of dit wettig sal wees vir die instelling om inligting oor partye soos Gordhan vir die ondersoek beskikbaar te stel.

Die SAID het Mkhwebane ook skriftelik daarvan ingelig.

Die OB het Dinsdag egter gesê haar kantoor het die grondwetlike magte om die SAID regstreeks vir die betrokke inligting te dagvaar.

Sy het dit in haar verklaring ook duidelik gemaak dat sy as laaste uitweg nie sal skroom om die OB-wet te gebruik en minagtingsverrigtinge in ’n hof teen die SAID te begin as sy nie die betrokke dokumente kry nie.

“Adv. Mkhwebane wil dit verder ook onder die publiek se aandag bring dat haar kantoor beweringe ontvang het dat die SAID – kort nadat sy die geïmpliseerde partye met dagvaardings oor haar ondersoek bedien het – ’n vergadering met die meeste van die partye gehou het en dat die antwoorde wat sy van dié instelling en die minister ontvang het, op daardie vergadering gekoördineer is.

“Die ondersoek duur voort ondanks die uitstaande dokumente van die SAID,” lui haar verklaring.

Volgens Mkhwebane sal sy ook voortgaan om kennisgewings uit te reik waardeur geïmpliseerde partye die geleentheid gegun word om kommentaar te lewer op haar bevindinge voordat sy haar finale verslag uitreik.

Mkhwebane het ’n beroep gedoen op die publiek om haar toe te laat om haar werk ongehinderd te doen en om hierdie ondersoek net soos enige ander teen ’n staatsamptenaar in die gees van gelykheid voor die gereg te hanteer.

Vroeër is berig dat Gordhan se kantoor Mkhwebane se huidige ondersoek teen hom beskryf het as “ampsmisbruik” en “ ’n voorbeeld van ’n terugvegveldtog om pogings te ontwrig om ampsoortredings en korrupsie in verskeie regeringsentiteite bloot te lê en mense te vervolg”.

Daar is ook berig dat afgetrede regter Robert Nugent in sy Desember-verslag oor die SAID bevind het dat die betrokke eenheid nie onwettig was nie.

Meer oor:  Said  |  Ob  |  Pravin Gordhan  |  Gordhan Kry Uitstel  |  Ob-Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.