Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB ondersoek politieke inmenging in Wes-Kaap

Die openbare beskermer (OB) gaan beweerde politieke inmenging in die aanstelling van ’n nuwe polisiekommissaris vir die Wes-Kaap ondersoek.

Albert Fritz, die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het dié besluit verwelkom nadat die aanstellingsproses in omstredenheid gedompel is omdat genl.maj. Jeremy Vearey, speurhoof in die provinsie, in ’n brief aan genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, gesê het hy verneem hy het nie die kortlys gehaal nie omdat sy kwalifikasies glo nie by sy aansoek ingesluit was nie.

Albert Fritz, die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid. Foto: Jonathan Lestrade

Fritz hou vol dat die ANC hom by die aanstellingsproses ingemeng het en dat dit die rede is waarom die proses nou van vooraf moet begin.

Sitole het senior bestuurslede verlede maand skriftelik in kennis gestel dat die advertensie wat in Augustus 2019 gepubliseer is, teruggetrek word sodat die pos weer geadverteer kan word. Die brief was gedateer 28 Oktober.

Die LUR het aan die einde van Oktober ’n beëdigde verklaring by die OB ingedien, nadat die nasionale polisiebestuur aangekondig het dat die pos nie gevul sal word nie, maar wel weer geadverteer sal word.

“Op Vrydag 8 November 2019 het ek bevestiging gekry dat die saak deur die OB se nasionale kantoor in Pretoria ondersoek sal word. Ek is bly dat dié saak met die erns wat dit verdien voorkeur kry. Ek sal onmiddellik met die nasionale kantoor opvolg om vas te stel wie vir hierdie ondersoek verantwoordelik sal wees en om op die hoogte gehou te word van die ondersoek,” het die LUR gesê.

Fritz sê volgens artikel 207 (3) van die Grondwet moet die nasionale kommissaris, met die instemming van die provinsiale uitvoerende gesag, ’n vrou of ’n man as provinsiale kommissaris vir daardie provinsie aanstel, maar as die nasionale kommissaris en die provinsiale uitvoerende gesag nie kan saamstem oor die aanstelling nie, moet die kabinetslid verantwoordelik vir polisiëring as bemiddelaar optree. “Dit is op hierdie grondslag dat ek my klag ingedien het.”

Fritz sê volgens wet kan die minister van polisie, Bheki Cele, slegs tussenbeide tree as daar onenigheid tussen die nasionale kommissaris en die provinsiale regering is oor die aanstelling van die provinsiale kommissaris.

“Ek wil hê dit moet op rekord wees dat daar nooit ’n meningsverskil was tussen die provinsiale uitvoerende gesag en die nasionale kommissaris oor die aanstelling nie. Daar was egter besware en aantygings van die ANC,” het Fritz gesê.

“Ek is teleurgesteld dat ANC-lede, en die gerugte van inmenging deur politici op nasionale vlak, ’n belangrike proses in die wiele gery het, wat ons daarvan weerhou om hierdie pos te vul, sodat ons veiligheid vir ons inwoners kan bring. Dit is oor hierdie beweerde inmenging dat ek die openbare beskermer gevra het om ondersoek in te stel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.