Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB ontken regskoste ‘dwing hom om te besnoei’

Die kantoor van die openbare beskermer (OB) ontken hy pas kostebesparingsmaatreëls toe omdat die OB se regskoste die afgelope boekjaar die hoogte ingeskiet het.

Luidens ’n voorlegging aan ’n bestuursvergadering van die OB se kantoor, waarvan Netwerk24 ’n afskrif het, het die OB teen 14 Januarie sy begroting vir regskoste van R20 miljoen vir die huidige boekjaar reeds met 100% oorskry.

Volgens die OB se eie projeksies sal sy regskoste in dié boekjaar meer as R50 miljoen beloop. Die hoë regskoste dra glo daartoe by dat die OB die boekjaar volgens die voorlegging R18 miljoen in die rooi sal afsluit.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, praat Dinsdag op ’n mediakonferensie. Foto: Christiaan du Plessis

Die politieke ontleders Theo Venter en Ralph Mathekga meen die hoë regskoste is kommerwekkend, veral omdat adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, verskeie hofaansoeke wat sy teengestaan het, verloor het.

“Sy en haar kantoor is al verskeie kere gelas om vir die ander party se regskoste op te dok, wat die OB se uitgawes verder opjaag,” sê Venter.

‘Hoë regskoste kom uit Madonsela se dae’

Oupa Segalwe, Mkhwebane se woordvoerder, het Woensdag gesê Mkhwebane moenie die skuld vir die hoë regskoste kry nie.

Volgens Segalwe spruit die uitgawes uit die Nkandla-uitspraak van die konstitusionele hof in 2016 waarby Mkhwebane se voorganger, prof. Thuli Madonsela, betrokke was.

Die hoogste hof het toe bevind dat die OB se bevindinge bindend is tensy dit deur ’n hof van die hand gewys word.

“Die uitspraak was die begin van die styging in regskoste, want sedertdien kon enige persoon of instansie teen wie die OB negatiewe bevindinge maak, hof toe gaan om haar bevindinge uit te daag,” sê Segalwe.

Adv. Gratitude Magwanishe, voorsitter van die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste, sê by navraag Mkhwebane sal met vrae oor haar regskoste gepeper word wanneer sy in April voor die komitee moet verskyn.

‘OB bespaar, maar nie weens regskoste’

Segalwe ontken dat kostebesparings by die OB toegepas word weens die uitgawes aan regskoste.

Hy erken wel dat miljoene rande wat aanvanklik vir ander doeleindes geoormerk was, gekanaliseer word om die regskoste te dek.

“Die tesourie het alle staatsinstellings gevra om koste te bespaar en daarom probeer ons sny. Ons vra ons werknemers om minder fotostate te maak en minder te bel. Ons vra ook dat hulle eerder Skype gebruik as om te reis. Dit het niks met die regskoste te doen nie,” sê Segalwe.

Die OB oorweeg dit ook om leë poste tot die einde van die boekjaar te bevries.

Thandi Modise, speaker van die parlement, het onlangs ’n aansoek van die DA goedgekeur om die proses te begin wat daartoe kan lei dat Mkhwebane uit haar pos verwyder word. Mkhwebane het die parlementêre proses Dinsdag op ’n mediakonferensie as ongrondwetlik beskryf en gesê sy sal hof toe gaan om haar pos te behou.

Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, sê die paneel wat moet bepaal of Mkhwebane geskik is vir haar amp, sal ook die kwessie van die regskoste in ag neem.

“Die uitgawes kan selfs op wanbesteding neerkom indien Mkhwebane in die regstryde betrokke geraak het, nie in belang van die OB nie, maar om haar eie reputasie te beskerm,” sê Mazzone.

Meer oor:  Regskoste  |  Oupa Segalwe  |  Openbare Beskermer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.