Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB ‘sal hof toe gaan om haar pos te behou’

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), sê sy is glad nie van plan om te bedank nie en sal haar tot die hof wend om haar pos te behou.

Dít kom nadat Thandi Modise, speaker van die parlement, ’n mosie van die DA goedgekeur het om met die proses te begin wat daartoe kan lei dat Mkhwebane uit haar amp verwyder word.

Mkwebane het Dinsdag op ’n mediakonferensie by die OB se hoofkantoor in Pretoria gesê die parlementêre proses teen haar is ongrondwetlik.

Adv. Busisiwe Mkhwebane
Adv. Busisiwe Mkhwebane praat Dinsdag op ’n mediakonferensie by die openbare beskermer se hoofkantoor in Hillcrest, Pretoria. Foto: Christiaan du Plessis

“Ek het aan die speaker oor die kwessies geskryf en wag nou vir haar terugvoering. Ek praat deurgaans met my regspan, maar ek glo ons sal ’n ooreenkoms bereik en dat dit nie nodig sal wees om hof toe te gaan nie.

“Ander staatsinstellings is ingevolge die wet veronderstel om die eer en die onafhanklikheid van die OB te beskerm,” sê Mkhwebane.

Die parlement het verlede jaar ’n nuwe stel reëls goedgekeur waarvolgens die hoof van ’n hoofstuk 9-instelling (soos die OB) verwyder kan word. Mkhwebane meen dit kan misbruik word om die hoofde van sulke instellings te verwyder om mense in magsposisies se politieke agenda te pas.

“Vandag word die openbare beskermer verwyder. Môre is dit die ouditeur-generaal,” sê Mkhwebane.

Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, het Dinsdag in ’n verklaring gesê Mkhwebane se uitlatings wys “weer eens” dat sy ’n “uitsonderlik swak” begrip van die reg het.

“Die Grondwet laat wel ruimte vir die verwydering van ’n OB op gronde van wangedrag, die onvermoë om die werk te kan doen en onbevoegdheid,” sê Mazzone.

Sy sê die nuwe stel reëls beskryf bloot hoe die nasionale vergadering die proses moet aanpak.

Die Grondwet laat wel ruimte vir die verwydering van ’n OB op gronde van wangedrag, die onvermoë om die werk te kan doen en onbevoegdheid.
Natasha Mazzone

Die DA het in sy mosie na verskeie hofuitsprake verwys wat Mkhwebane se bevoegdheid in twyfel trek.

Mkwebane meen sy kan nie op grond van die howe se uitsprake verwyder word nie omdat dié uitsprake nie ’n ware weerspieëling van haar bevoegdheid is nie.

“Ek gaan nie bedank nie. Ek is deur die wil van God in my pos geplaas en ek sal bly solank as wat ek kan. My enigste fokus is om die mense van die land te dien, en nié om met amptenare te baklei nie,” sê Mkhwebane.

Mkhwebane sê sy is bekommerd oor die ondersoek van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) na haar belastingsake, asook die Valke, wat ’n aanklag van meineed teen haar ondersoek.

“Hoewel ek my volle samewerking sal gee, is ek bekommerd omdat dit wil voorkom of staatsinstellings misbruik word om my terug te kry. Baie mense weet my ondersoeke is nie goed deur sekere dele van die samelewing ontvang nie . . . Ek is selfs al gedreig en vergif.”

Ralph Mathekga, ’n onafhanklike politieke ontleder, sê Mkwebane probeer die parlement voorsê om beginselvas op te tree terwyl haar optrede self bedenklik is.

Tog sê hy die parlement moet die kwessie met handskoene aanpak omdat die proses om Mkhwebane te verwyder die eerste van sy soort in Suid-Afrika is.

“Ons moet onthou die parlement ondersoek haar bevoegdheid om haar amp te behou. Hy moet dit nie laat blyk die proses is begin met die beplande doel om van haar ontslae te raak nie,” sê Mathekga.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.