Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB se Estina-verslag ter syde gestel

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), het haar plig versuim om die Estina-suiwelprojek in Vrede te ondersoek en daaroor verslag te doen, het die hooggeregshof Maandag in Pretoria bevind.

Mkhwebane se verslag was volgens regter Ronel Tolmay ongrondwetlik en ongeldig en sy het dit ter syde gestel. Sy sal later ’n kostebevel maak.

Die DA en die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) het verlede jaar die aansoek ingedien dat die verslag ongrondwetlik verklaar en ter syde gestel moet word.

Die DA het gemeen Mkhwebane was nie weloorwoë in haar ondersoek nie en senior politici wat geïmpliseer is, is nie ondervra nie.

Sowat R200 miljoen wat vir swart opkomende boere geoormerk was, het gevloei na dié projek van Estina, ’n maatskappy wat vermoedelik bande met die Guptas het.

Honderd opkomende swart boere sou onder meer as deel van dié bemagtigingskema in die Vrystaat elk vyf koeie kry, maar daar het dadels van gekom.

Die plaas waarop die projek ontwikkel sou word, is in 2013 gratis deur die provinsiale landboudepartement aan Estina gegee, met ’n 99-jaar-huurtermyn.

Netwerk24 het in Januarie berig die melkverwerkingsaanleg op die plaas is deur die Gupta-maatskappy, Oakbay, opgerig.

Dit was een van die skandelikste transaksies tussen die Gupta-familie en ’n staatsentiteit, berig News24.

Die uitgelekte #GuptaLeaks-e-posse het verlede jaar blootgelê hoe minstens R30 miljoen wat die Guptas via die plaas verkry het, bestee is aan ’n uitspattige familietroue in Sun City in 2013.

Adv. Janice Bleazard, vir die DA, het in die hofaansoek aangevoer dat Mkhwebane nagelaat het om ’n klag van Roy Jankielsohn van die DA te ondersoek.

Jankielsohn het tussen 2013 en 2016 twee klagte by die OB aanhangig gemaak waarin hy gevra het dat die rol van die provinsiale regering ondersoek moet word asook ’n derde klag dat Ace Magashule, destyds die Vrystaatse premier, se rol ondersoek moet word.

Mkhwebane het in Oktober 2016 toe sy die pos as OB ingeneem het, ’n voorlopige verslag oor die klagte van haar voorganger, adv. Thuli Madonsela, gekry.

Sy het dit nie gedoen nie. Pleks daarvan het sy die derde klag gerieflikheidshalwe geïgnoreer.
DA

Mkhwebane het in 2018 haar volledige verslag uitgereik waarin aankoop-ongerymdhede, erge nalatigheid en wanadministrasie ten opsigte van die projek bevind is.

Haar aanbevelings was dat Magashule “dissiplinêre aksie moet instel teen alle geïmpliseerde amptenare wat te doene gehad het met die Vrede-suiwelprojek”.

Die DA het gemeen Mkhwebane was nie weloorwoë in haar ondersoek nie en senior politici wat geïmpliseer is, is nie ondervra nie.

Die party het aangevoer dat daar van haar as OB verwag is om ’n voorlopige ondersoek na die meriete van Jankielsohn se klagte te doen, of sy moes die saak na ’n ander ondersoekowerheid verwys het.

“Sy het dit nie gedoen nie. Pleks daarvan het sy die derde klag gerieflikheidshalwe geïgnoreer.”

Casac het aangevoer die verslag het geen bevindings bevat oor die “hoëvlakpolitici wat ’n sentrale rol in die projek gespeel het nie”.

Oupa Segalwe, die OB se woordvoerder, het gesê hulle kan nie kommentaar op die hofuitspraak lewer voordat hulle dit nie bestudeer het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.