Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB sê ondersoek na Cyril ‘is prioriteit’ – Mmusi

Die openbare beskermer (OB) het hom verseker die klag wat hy by haar teen pres. Cyril Ramaphosa oor die president en sy seun Andile se beweerde bande met die omstrede diensteverskaffer Bosasa ingedien het, sal prioriteit geniet, sê Mmusi Maimane, DA-leier.

Mmusi Maimane, die DA-leier, praat Dinsdagmiddag met joernaliste na sy vergadering met adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, in haar kantoor in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt

Omdat die ondersoek so wyd en kompleks is, sal dit egter nie voor die algemene verkiesing op 8 Mei afgehandel wees nie, sê hy.

Maimane het adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, Dinsdagmiddag in haar kantoor in Pretoria gaan spreek. Die vergadering was op versoek van die DA-leier.

Verskeie senior personeellede van haar kantoor het ook die vergadering bygewoon.

Maimane het ná die vergadering met die OB aan joernaliste gesê hy doen opnuut ’n beroep op Ramaphosa om sy saak voor die Zondo-kommissie van ondersoek te gaan stel.

“Die president het al gesê hy sal dit doen, maar ons wil hê dit moet voor 8 Mei gebeur. Die kiesers het die reg om te weet vir wie hulle stem,” sê hy.

Die DA-leier het vroeër ’n brief aan adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die Zondo-kommissie, geskryf waarin hy vra dat Ramaphosa gedagvaar word om voor hom te verskyn.

Ramaphosa, wat die R500 000 vir sy ANC-presidentsverkiesing van Bosasa se grootbaas, Gavin Watson, terugbetaal het, het vroeër vanjaar al ’n afspraak met Mkhwebane gehad.

Die president ontken dat hy het enigiets verkeerd gedoen het.

Andile Ramaphosa het ’n kontraktuele ooreenkoms met Bosasa vir “adviesdienste” gehad waarvoor hy meer as R2 miljoen in bietjie meer as ’n jaar verdien het.

Ramaphosa het aan die parlement gesê hy het die kontrak gesien en dat dit in orde was.

Andile se sakevennoot, ’n Chinese energiemaatskappy, het glo in Januarie 2018 probeer om ’n agteraf betaling van R400 miljoen te kry. Dit was toe sy pa, as president, die hoof van ondernemings wat aan die staat behoort en Eskom was.

Ek stem met haar saam; die ondersoek moet deeglik gedoen word.

Maimane sê dit is nou al “vyf maande sedert Ramaphosa die parlement mislei het” oor sy en sy seun se bande met Bosasa oor wie daar die afgelope paar weke talle skokkende bewerings voor die Zondo-kommissie gemaak is.

Daar was onder meer getuienis voor die kommissie dat Bosasa die afgelope 20 jaar senior ANC-lede omgekoop het.

Maimane sê die OB het aan hom gesê die ondersoek na Ramaphosa is te wyd en kompleks om dit vinnig af te handel.

“Ek stem met haar saam; die ondersoek moet deeglik gedoen word.”

’n Gebrek aan geld en hulpbronne bemoeilik ook die kantoor van die OB se werksaamhede.

“Sy en haar voorganger (adv. Thuli Madonsela) het albei daaroor gekla. Dit is die rol van die parlement om seker te maak dat die OB en haar kantoor oor genoegsame hulpbronne beskik. Haar kantoor moet versterk word, anders sal dit nie effektief kan wees nie.

“Dit sal makliker wees om meer hulpbronne aan die OB se kantoor te gee indien die ANC se meerderheid in die parlement met die verkiesing heelwat verklein word,” het Maimane gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.