Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB sluit ondersoeke na verskeie ‘Zuma-ondersteuners’
 adv. Busisiwe Mkhwebane
Die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, praat Donderdag op ’n mediakonferensie by die OB se hoofkantoor in Hillcrest, Pretoria. Foto: Christiaan du Plessis

Die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, het verskeie ondersoeke gesluit na politici wat nog altyd as ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma beskou word.

Mkhwebane het Donderdag op ’n mediakonferensie by die OB se hoofkantoor in Hillcrest, Pretoria, gesê sy sluit dié ondersoeke as deel van die OB se pogings om agterstallige sake te verminder. Sy sê ook die klagte wat gelei het  tot die ondersoeke, is ongegrond.

“Ons het ’n paar opmerkings in die verslae oor die ondersoeke gemaak wat op ons webtuiste beskikbaar sal wees. Daar word redes gegee sodat mense die sluiting (van die ondersoeke) kan verstaan,” sê Mkhwebane.

Netwerk24 kon egter nie Donderdag toegang tot die OB se webtuiste kry om te kyk of die verslae al uitgereik is nie. ’n Kennisgewing het aangedui dat daar aan die webtuiste gewerk word.

Mkhwebane het al meermale ten sterkste ontken dat sy ’n politieke agenda het en dat haar verslae partydig is.

Sy het onder meer bevind dat die volgende klagte ongegrond is:

  • Dat Baleka Mbete, voormalige speaker van die Nasionale Vergadering (NV), omgekoop is deur aandele ter waarde van R25 miljoen van die onderneming Invictus Gold te ontvang;
  • Dat Faith Muthambi, voormalige minister van kommunikasie, die uitvoerende gesag se etiese kode oortree het weens haar rol in die ondersoek na bewerings dat die ANC by die redaksionele inhoud van die SAUK ingemeng het. Dié ondersoek het in 2015 bevind daar was geen inmenging nie;
  • Bewerings dat Tina Joemat-Pettersson, voormalige minister van energie, haar plig versuim het in verband met die beoogde kernkrag-ooreenkoms met Rusland wat die tesourie glo R1 000 miljard uit die sak sou jaag; en
  • Dat Riah Phiyega, voormalige nasionale polisiekommissaris, onreëlmatig opgetree het deur sekere aanstellings te doen.

Mkhwebane wou nie veel sê oor die DA se jongste aansoek dat ’n proses in die nuwe jaar begin word om haar uit haar pos te verwyder nie.

Thandi Modise, speaker van die NV, het Woensdag gesê die aansoek sal ingevolge nuwe parlementêre reëls oorweeg word.

Nuwe reëls vir die verwydering van ’n hoof van ’n hoofstuk 9-instelling, wat die kantoor van die OB insluit, is op 3 Desember deur die NV aanvaar.

Mkhwebane beweer voorts die Reserwebank wil nie sy samewerking gee nie rakende ’n ondersoek van haar na die rol van die bank in die onlangse VBS-skandaal.

Die Reserwebank hou glo vol dat Mkhwebane nie die jurisdiksie het om sy rol te ondersoek nie.

Ziyanda Mtshali, woordvoerder van die Reserwebank, kon nie Donderdag vir kommentaar bereik word nie.

Volgens Mkhwebane was vanjaar vir haar nie net “maanskyn en rosegeur” nie en sy sê die laagtepunt is die konstitusionele hof se uitspraak vroeër vanjaar rakende een van haar verslae waarin bevind is sy het ter kwader trou opgetree.

* Intussen het die hooggeregshof luidens ’n verklaring deur die OB Donderdag Basani Baloyi, afgedankte bedryfshoof van die OB, se dringende aansoek dat sy heraangestel moet word, van die hand gewys. Die hof het glo bepaal dat die saak eerder deur die arbeidshof aangehoor moet word.

Baloyi het in hofstukke beweer Mkhwebane was partydig in van haar ondersoeke en dat sy ’n politieke agenda het.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.