Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB ‘stel nie eie verslae op’

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), het Vrydag onthul sy berei nie haar eie verslae voor nie, maar “onderteken dit net”.

Sy aanvaar wel volle verantwoordelikheid vir verslae wat haar kantoor uitreik, sê sy. 

Adv. Busisiwe Mkhwebane bespreek in Oktober 2016 ’n jaarverslag in die parlement in Kaapstad.Foto: Conrad Bornman, Rapport

Dit word “voorberei deur baie ervare ondersoekers in my kantoor wat dit ondersoek. Ek onderteken dit net”. 

Prince Mashele, politieke ontleder, het sy skok oor dié onthulling uitgespreek. 

Mkhwebane het by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gesê van die sewe sake wat die OB-kantoor tot dusver in die howe verloor het, is vyf uitgereik deur haar voorganger (adv. Thuli Madonsela).

“Net twee daarvan is in my termyn uitgereik,” sê sy. Die OB, wat deelgeneem het aan ’n paneelbespreking by die amptelike bekendstelling van die UWK se mediagenootskap in Kaapstad, het haar toespraak toegespits op hoe die media haar behandel. 

Sy sê net soos alle regters feilbaar is, is alle media-instellings bevooroordeeld teenoor haar.

Volgens Mkhwebane het haar “sondes” of probleme begin die dag toe sy die Absa/Bankorp-verslag uitgereik het, “toe ek bevindings teen mense met geld gemaak het”.

“Hulle het my persoonlik begin aanval. Die dreigemente om my te vergif, was om my stil te maak. 

“Ek het bewyse. Ook bewyse dat mense doodgemaak is oor die sogenaamde rogue unit (van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens).”

Die huidige eise dat sy uit haar pos verwyder word, is “omdat ek dinge oor magtige mense weet”. 

“Dít is waarom hulle my naam wil bevlek.”

Mkhwebane meen dit is waarom alle media-instellings “duistere motiewe” teenoor haar koester.

Sy beweer daar word feitelik verkeerd en sensasioneel oor haar en haar verslae verslag gedoen en dat sy in onderhoude met joernaliste “onder kruisondervraging geneem word” sonder die geleentheid om haar kant van die saak te stel.

“Geeneen van hulle berig onpartydig nie, net soos baie politieke ontleders ook sonder feite praat.”

Sy meen dit is alles “om my te ondermyn en van die OB-amp te skei”.

Oor die verdoemende uitspraak van die konstitusionele hof oor die Absa-Ciex-verslag teen haar, sê Mkhwebane “regters is ook feilbaar”. 

“Hulle is ook net mense. Hoeveel uitsprake van regters is nie al in die appèlhof en die konstitusionele hof tersyde gestel nie?”

Die media is baie divers en weerspieël net wat aangaan.
Prince Mashele, politieke ontleder

Sy benadruk dat hulle nie bekommerd is oor die hersieningsaansoeke wat in howe hangende is teen van haar verslae nie, maar wel oor gewone burgers en pensioentrekkers – soos diegene wat hul geld in die VBS-skandaal in Limpopo verloor het.

"En ek speel ook nie slagoffer nie. Maar wat noem jy die berig in Financial Mail (wat haar onlangs op sy voorblad as ’n vyand van die staat beskryf het) of die joernalis wat sonder my toestemming onlangs ’n onderhoud oor my met my 89-jarige ma gedoen het? 

“Hulle almal is bevooroordeeld. Dít is waarom ek You­Tube gebruik om te kommunikeer.”

Sy sê hoewel haar werk in ’n politieke omgewing gedoen word, het sy geen beheer oor die EFF wat haar in die howe ondersteun nie. 

“Hulle wil net ’n grondwetlike instelling beskerm.”

Mashele, wat ook ’n paneelspreker was, sê hy is geskok dat Mkhwebane die media aanvat, sê regters is feilbaar en beweer dat ondersoekers haar verslae opstel.“

Die negatiwiteit teenoor haar in sommige media-instellings spruit uit haar eie kantoor, uit die talle hofsake wat sy onlangs in die howe verloor het. 

“Die howe het selfs van haar verslae as onsin beskryf. Verwag jy die media moet dit ignoreer?“

Ek aanvaar nie haar slagofferskap en haar bewerings dat die hele media ’n agenda teen haar het nie. 

“Die media is baie divers en weerspieël net wat aangaan,” sê Mashele. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.