Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB swyg oor Ramaphosa se ‘skuldig-bevinding’

Te midde van nóg ’n beroep dat adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), se gepastheid vir haar amp ondersoek moet word, het sy Sondag geweier om te reageer op ’n koerantberig dat sy pres. Cyril Ramaphosa glo skuldig bevind het daaraan dat hy die parlement “onopsetlik mislei” het.

Adv. Busisiwe Mkhwebane

Sy het in ’n verklaring gesê sy sal nie kommentaar lewer op “die inhoud van enige nuusberig of uitgelekte verslag” wat kwansuis hare is nie omdat dit haar ondersoek potensieel kan verongeluk en diegene wat ondersoek word, kan benadeel.

Dít volg nadat die Sunday Independent berig het dat Mkhwebane vir Ramaphosa daaraan skuldig bevind het dat hy die parlement “onopsetlik mislei” het toe hy nagelaat het om ’n R500 000-skenking van Bosasa vir sy veldtog om in 2017 ANC-president te word te verklaar.

Sy het luidens die berig ook bevind dat hy die Grondwet en die etiese gedragskode vir die uitvoerende gesag geskend het en dalk ook by geldwassery betrokke was omdat die skenking van Gavin Watson, uitvoerende hoof van Bosasa, deur middel van verskeie tussengangers gedoen is.

Ramaphosa is glo tien dae gegee om op die verslag te reageer.

Mkhwebane het gesê sy maak haar verslae amptelik ingevolge die Grondwet bekend.

Ondanks al die “geraas” verloor sy egter nie slaap daaroor nie en is trots op die kantoor onder haar leierskap.

Intussen het die SAKP Sondag gesê dit is noodsaaklik dat Mkhwebane se gepastheid vir haar amp ondersoek word in die lig van die verdoemende hofuitsprake teen haar en omdat sy ’n “instrument geword het in politieke en ander stryde”.

Die DA het onlangs die parlement versoek om so ’n ondersoek te doen. Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), het verlede week aangedui dat sy advies soek oor hoe om gepas te reageer op dié versoek.

Mkhwebane se ondersoek na Ramaphosa het gevolg op klagte wat die DA en die EFF in November verlede jaar by haar kantoor ingedien het. Hulle het gevra dat sy ondersoek instel oor of Ramaphosa die parlement doelbewus mislei het en om te bepaal of daar ’n onbehoorlike verhouding tussen hom en die omstrede dienstemaatskappy Bosasa was.

Dit was nadat Ramaphosa erken het dat sy veldtog in 2017 om ANC-president te word onder meer deur Bosasa, wat intussen sy naam na African Global Operations verander het, gefinansier is.

Hy het egter gesê dié skenking is sonder sy medewete gedoen. Hy het in verklaring aangedui dat hy onbewus was van die skenking deur Watson totdat hy op 6 November deur Mmusi Maimane, die DA-leier, in vraetyd in die NV daaroor uitgevra is.

Die Bosasa-kwessie

Maimane het Ramaphosa op dié dag gevra of hy bewus is van ’n R500 000-skenking wat Bosasa aan Andile Ramaphosa, die president se seun, gedoen het. Ramaphosa het tóé gesê dat Andile konsultasiewerk vir Bosasa gedoen het.

Ramaphosa het egter tien dae later in brief aan Baleka Mbete, die destydse speaker van die NV, gesê dat hy “onopsetlik” die verkeerde inligting aan die parlement gegee het toe hy dié inligting verskaf het en dat hy ’n regstelling op sy antwoord wil aanbring.

Ramaphosa het in die brief aangedui dat hy, nadat hy meer inligting ingewin het, ingelig is dat die betaling waarna Maimane verwys het nie verband hou met Andile se kontrak met Bosasa nie, maar dat Watson dit in ’n trustrekening geplaas het wat gebruik is om geld in te samel vir sy veldtog om die ANC-president te word.

Dit het later aan die lig gekom dat Bosasa meer as R2 miljoen aan Andile Ramaphosa betaal het vir kontrakwerk.

Mkhwebane het dié naweek in ’n toespraak in Mpumalanga, wat woord vir woord op Twitter gedeel is, teen haar kritici uitgevaar en aangekondig dat sy ’n saak aanhangig gemaak het teen diegene wat haar beledig het. Sy het daarop gewys dat sy in die sowat 20 maande in die amp onder meer ’n “spioen” en “Zuptoid” of “Zupta-beskermer” genoem is; ’n minister haar “onbevoeg” genoem het, terwyl ’n direkteur-generaal haar vir ’n “idoot” uitgekryt en joernaliste haar ’n “moroon” genoem het.

Word Pravin Gordhan geteiken?

Sy het ook verwys na die “belaglike bewering” dat sy vir Ramaphosa en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, teiken.

“In die 12 maande tot 31 Maart 2019 het ek 14 000 sake ondersoek. Slegs twee het verband gehou met min. Gordhan, terwyl een met die president verband gehou het. Daar was slegs een verslag teen min. Gordhan en geen teen die president uit die 102 wat ek tot dusver uitgereik het nie. So, hoe teiken ek hulle?” vra sy in een twiet.

Sy het ook ontken dat sy deel is van die ANC se faksiegevegte.

Ondanks al die “geraas” verloor sy egter nie slaap daaroor nie en is trots op die kantoor onder haar leierskap.

Mkhwebane het ook gesê dat slegs God haar uit haar amp kan verwyder. “Ek weet sommige van julle mag dalk nie Christene wees nie, maar ek glo sterk ek is deur God in dié posisie geplaas en glo dat slegs Hy my kan verwyder as Hy van mening is dat ek misluk het.”

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Cyril Ramaphosa  |  Ob
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.