Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB vasbeslote om negatief teen hom te bevind – Gordhan

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, sê Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), is vasbeslote om “negatiewe bevindings teen hom te maak in weerwil van die getuienis voor haar”.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Sy het met “onbehoorlike of voorbedagte rade” opgetree, sê Gordhan in sy bykomende verklaring in sy hersieningsaansoek van die OB se ondersoek en bevindings teen hom.

Gordhan beweer Mkhwebane het versuim om die sogenaamde geheime ondersoekeenheid van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) behoorlik te ondersoek. Dit het ’n narratief oor die SAID bevorder wat so skadelik vir die instelling was dat dit neergekom het op “ekonomiese en fiskale sabotasie,” lui sy verklaring.

Mkhwebane het bevind dié eenheid is onwettig gestig en bedryf en dat Gordhan, as ’n voormalige minister van finansies, deur pres. Cyril Ramaphosa gestraf moet word weens sy gedrag.

Gordhan was in Julie vanjaar suksesvol met sy aansoek om ’n interdik te kry teen die inwerkingstelling van Mkhwebane se voorgestelde dissiplinêre stappe hangende ’n volledige hersiening van haar bevindinge. As deel van dié proses is Mkhwebane verplig om ’n volledige rekord van haar ondersoek en besluitnemingsproses by die hof in te dien.

Die konstitusionele hof het Mkhwebane in ’n onverwante hersieningsaansoek teen ’n beslissing van haar op die vingers getik omdat sy nie ’n volledige rekord ingevolge reël 53 van die Hofreëls in dié saak by die hof ingehandig het nie. Die hof het gesê dit moet “elke stukkie papier” insluit wat haar besluit regstreeks of onregstreeks beïnvloed het.

Oupa Segalwe, OB-woordvoerder, het voorheen aan News24 gesê die rekord wat Mkhwebane in die Gordhan-hersieningsaansoek ingedien het, is volledig en dat die proses vertraag word deur te vra vir dokumente wat hulle reeds het.

Die OB se minagting van die reëls van die hof is betreurenswaardig en moet bestraf word.

Gordhan het egter Maandag gesê Mkhwebane se rekord wys nie hoe sy by haar gevolgtrekkings uitgekom het nie. Hy het gesê sy regspan het haar twee keer versoek om die volledige rekord aan die hof te gee. Die 1 000-bladsye rekord wat sy in Augustus ingedien het, het tot 2 500 bladsye aangegroei met haar derde probeerslag, sê Gordhan.

“Die OB se minagting van die reëls van die hof is betreurenswaardig en moet bestraf word,” sê Gordhan.

Hy sê omdat die Wet op die Openbare Beskermer vereis dat “spesiale omstandighede bestaan” voordat klagtes van ouer as twee jaar ondersoek word, sy moes aantoon wat die “spesiale omstandighede” in dié geval is. Sy het egter nie.

Hy sê ook Mkhwebane het die feit geïgnoreer dat ’n aantal ander instellings die ondersoekeenheid ondersoek het. Verslae waarin bevind is dat die eenheid teen die wet was, is later teruggetrek en daar is daarvoor om verskoning gevra.

Wie was die bron van dié klagte?

Mkhwebane het bevind Gordhan het die parlement “doelbewus” mislei oor ’n vergadering waar hy was waar ’n lid van die Gupta-familie ook teenwoordig was. Gordhan sê dit was ’n bona fide-fout.

Gordhan sê in sy verklaring daar is onreëlmatighede in die Reël 53-rekord wat die vraag laat ontstaan wie nou eintlik die bron van hierdie klag was.

Mkhwebane se ondersoek is op twee bronne gegrond: Die een klagte was anoniem en die ander een is ’n maand later deur Floyd Shivambu, EFF-sweep, ingedien. Maar nie een van dié twee klagte maak melding van die vergadering waar die Gupta-familielid teenwoordig was nie.

Dit is eienaardig, veral omdat Mkhwebane vroeër aan Ramaphosa gesê het Shivambu het die klag ingedien.

Toe Gordhan se regspan vra dat die bron in die Reël 53-rekords ingesluit word, is hulle verwys na “opnames wat verband hou met die bedrywighede van die intelligensie-eenheid” wat geen verwysing na die Gupta-familie maak nie.

Gordhan sê die rekord wat Mkhwebane ingedien het, wys sy het ondersoekverslae en regsmenings geïgnoreer wat aandui dat die eenheid wettig is.

Die narratief dat die eenheid onwettig was, was gegrond op vals intelligensieverslae wat vir politieke doeleindes gebruik is. Mkhwebane het nie hierdie konteks in ag geneem nie.

Dit is eienaardig, veral omdat Mkhwebane vroeër aan Ramaphosa gesê het Shivambu het die klag ingedien.

Ivan Pillay ‘het nie matrieksertifikaat’

Mkhwebane het bevind Ivan Pillay, wat saam met Gordhan beskuldig is van onwettige optrede met die stigting van die geheime eenheid by die SAID, het nie ’n matrieksertifikaat of enige ander kwalifikasie nie.

Weer eens swyg die Reël 53-rekord oor hoe sy tot hierdie slotsom gekom het, sê Gordhan.

“Daar is geen dokumente in die rekord wat uiteensit hoe die OB Pillay se kwalifikasies nagegaan het nie. Dit is hoekom sy nie eens geweet het dat hy gematrikuleer het nie.”

Gordhan sê Mkhwebane is skuldig aan “prosedurele onregverdigheid en vooroordeel”.

“Die OB het gefouteer deur ’n onregverdige prosedure te volg ten tyde van haar ondersoek en het met ’n onbehoorlike doelwit of bybedoeling opgetree,” sê hy.

“Dit is duidelik uit die rekord dat die OB vasbeslote was om ’n negatiewe bevinding teen my te maak ongeag die bewyse voor haar tot die teendeel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.