Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB veglustig in parlement

Sy het gegaan om verslag te doen oor haar jaarplanne en om oor haar 2019-’20-begroting te praat.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), se pleidooi aan die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste dat haar kantoor oor die volgende drie jaar ’n bykomende R116,2 miljoen by sy jaarlikse begroting sal benodig om net sy werk te kan doen, het egter ’n ander wending geneem.

Dit toe sy gepeper is deur vrae van selfs ANC-LP’s oor die omstredenheid van haar ondersoeke teen onder meer pres. Cyril Ramaphosa, Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en oor die Estina-suiwelprojek in Vrede.

’n Veglustige Mkhwebane het haar voorlegging begin deur te sê dat sy nie deur die politiek in Suid-Afrika beïnvloed word nie, maar aangeval word omdat haar kantoor se werk “uiters verkeerd verstaan word”.

Sy het dit ook duidelik gemaak dat die OB-kantoor onafhanklik is en net aan die Grondwet en ander landswette onderworpe is. “Geen persoon of staatsorgaan mag inmeng by ons funksionering nie.”

Mkhwebane het verder aan die komitee gesê die werk wat sy doen, is nie maklik nie.

“Elke persoon in die republiek het hul eie idees oor hoe dit gedoen moet word. As ons besluite neem waarvan hulle nie hou nie, is ons onbevoegd, bevooroordeeld, betrokke by politieke faksionalisme en nie geskik vir die kantoor nie.

“Ons kan nie almal tevrede stel nie. Ons kan net ons beste doen.

“Die realiteit is dat in die tipe werk wat ons doen, sal sommige besluite nie goed afgaan by partye wat daardeur geraak word nie en sulke partye kan dit in ’n hof laat hersien en baie het dit gedoen. Maar ons vind dat hierdie proses uiters verkeerd verstaan word,” het sy gesê.

Dié relaas van haar het egter nie goed afgegaan nie by Richard Dyantyi, ANC-LP, wat haar daarvan beskuldig het dat sy ’n “woedende en gegriefde” OB is.

“Jy opper kwessies wat nie in die komitee hoort nie. Jy antwoord daardeur beweringe en jy noem dit aanvalle op jou deur onder meer ’n minister of iemand anders. Jy kon ’n verklaring daaroor uitgereik het. Ons het jou nie daaroor gevra nie. Ons moes net vandag bepaal of jou planne geloofwaardig is.”

Dr. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-LP, het egter vir haar in die bres getree en gesê dat LP’s “verkeerd en oneerbaar” is om Mkhwebane oor hangende ondersoeke of verslae te ondervra. “Gaan hof toe as julle dit wil laat hersien.”

Mkhwebane het egter die vrae beantwoord en ontken dat sy deur die politiek beïnvloed word. “Ons kyk net na die feite en wat die Grondwet en wette daaroor sê.”

Die Estina-suiwelprojek-ondersoek is volgens haar in ’n gevorderde stadium omdat sy reeds begunstigdes en politici daaroor ondervra het. “Ons verwag om die verslag daaroor teen einde Augustus uit te reik.”

Sy het ook gesê dat sy nog geen dokumente ontvang het dat Gordhan haar “rogue unit”-bevindinge in ’n hof wil laat hersien nie.

Gordhan het aangekondig dat hy Woensdagmiddag ’n dringende hooggeregshofaansoek ingedien het om Mkhwebane se aanbevelings in haar verslag oor die sogenaamde “rogue unit” by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te laat opskort en om die hele verslag te laat hersien.

Op ’n vraag oor hoekom sy geldwassery-beweringe teen Ramaphosa ondersoek terwyl dit nie deel van haar mandaat is nie, het sy gesê wetgewing laat haar toe om korrupsie te ondersoek. Sy sal egter enige bevindinge van misdade in daardie verband na die relevante wetstoepassingsagentskappe vir verdere ondersoek verwys.

Volgens haar is 30 van haar bevindingsverslae in haar tyd as OB op hersiening geneem. Haar kantoor finansier die opponering daarvan omdat sy haar werk in “goeder trou” doen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.