Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘OB verstaan nie Jan Taks’

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het reeds sy regspan opdrag gegee om ’n dringende hersieningshofaansoek voor te berei van die verslag van adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), waarin sy skokbevindinge teen hom gemaak het.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer. Foto: Tebogo Letsie

Ook Ivan Pillay, wat saam met Gordhan beskuldig is van onwettige optrede met die stigting van die “rogue unit” destyds by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het gesê hy gaan die verslag op hersiening neem.

Dit volg nadat die stryd tussen Mkhwebane, Gordhan en ander wat gesien word as sou hulle in die Ramaphosa-kamp wees, Vrydag in felheid toegeneem het.

Kommentators en ontleders was verstom oor die inhoud van Mkhwebane se verslag.

Gordhan het kaalvuis onder Mkhwebane ingeklim en gesê sy het met dié verslag gewys sy hou aan om haar feite verkeerd te kry, dat sy die wet verkeerd vertolk en duidelik bevooroordeeld is.

Gordhan, wat kommissaris van die SAID was toe die diens se afsonderlike intelligensie-eenheid gestig is, sê die Grondwet vereis dat die OB onafhanklik, onpartydig, waardig en doeltreffend moet wees. Tot nou toe het sy hierin misluk. “Dit is nou moontlik om die OB se ondersoek, verslag en remediërende voorstelle deur die hof te laat hersien.”

Tebogo Malatji, Gordhan se prokureur, het vroeër daarop gewys dat Mkhwebane se voorganger, adv. Thuli Madonsela, die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) voorheen die stigting van die “rogue unit” oorweeg en bevind het dat daar niks mee verkeerd was nie. Mkhwebane het egter vroeër gesê dat haar ondersoek anders is as die vorige ondersoeke omdat hare fokus op wanadministrasie terwyl dié van die NVG gefokus was op die strafregtelike aspekte van die saak.

Gordhan sal volgende week meer besonderhede bekend maak oor sy hofstryd.

Sou enigiemand hersieningsaansoeke wou bring en die implementering opskort, raai ek hulle aan om ’n interdik te kry om die instelling op te skort.
adv. Busisiwe Mkhwebane

Mkhwebane het egter vroeër op haar mediakonferensie gesê ’n hersieningsaansoek skort nie die toepassing van die remediërende stappe ook op nie.

“Sou enigiemand hersieningsaansoeke wou bring en die implementering opskort, raai ek hulle aan om ’n interdik te kry om die instelling op te skort.”

Pillay sê luidens ’n verklaring van Werksmans-prokureurs dat die OB se bevindinge “feitelik en wettiglik gebrekkig” is en toon dat sy geen of baie min ondersoek na die saak gedoen het.

Van die bevindinge wys ook daar is by die OB ’n gebrek aan kennis oor die werk van die SAID. “Van die bevindinge is bloot vals. Daar is duidelik waninligting aan die OB verskaf.”

Theo Venter, ’n politieke ontleder, het Vrydag gesê dat hy dié verslag glad nie verwag het nie.

Sy indruk is Mkhwebane wil die stelsel afstuur op ’n konstitusionele krisis. “Sy gebruik allerlei vertolkings van haar magte wat gebou is op die presedent wat geskep is rondom die Nkandla-sage.

“Ek dink nie sy is reg nie.

“Ek kry die indruk die ANC-koukus in die parlement wil haar termyn, kom ons sê dit maar sagkens, ‘van nader bekyk’.”

Emeritusprofessor Pieter Labuschagne, ’n politieke en regskenner van Unisa, sê egter Gordhan sal moeilik die “breed gebaseerde klagtes” teen hom oorleef.

Sy het nie met een van die lede van die sogenaamde geheime eenheid ’n onderhoud gevoer in haar ondersoek nie.
Jacques Pauw

Hy sê Mkhwebane se bevindinge oor die onwettige eenheid binne die SAID en die feit dat Gordhan vir die parlement gelieg het, is ernstig.

Jacques Pauw, skrywer van die boek The President’s Keepers, sê by navraag haar bevindinge is “simpel”, veral in die lig daarvan dat die OB se ondersoek volgens hom gebrekkig is.

“Sy het nie met een van die lede van die sogenaamde geheime eenheid ’n onderhoud gevoer in haar ondersoek nie,” sê hy.

Mkhwebane ontken sy was partydig in haar verslag waarin sy verskeie bevindinge teen Gordhan gemaak het.

Sy het onder meer bevind Gordhan het die Grondwet oortree deur die stigting van ’n geheime eenheid (“rogue unit”) in die SAID, wat onwettig bedryf is.

Dit staan amptelik bekend as die Hoërisiko-ondersoekeenheid, wat glo die SAID moes help om belasting van misdadigers in te vorder.

Die beweringe is egter dat die eenheid misbruik is om onder meer te spioeneer, terwyl slegs die Staatsveiligheidsagentskap die wettige mandaat het om dit te mag doen.

Mkhwebane se onpartydigheid is in die verlede uit verskeie oorde in twyfel getrek nadat sy met die ondersoek na Gordhan begin het.

“Ek het nie vooroordeel teen iemand nie, en ek is objektief wanneer ek my werk doen. Ek sal nie sommer wilde aantygings teen iemand maak nie. My verslag is op bewyse gegrond,” het Mkhwebane gesê.

Sy het ook bevindinge teen ander voormalige SAID-amptenare gemaak wat betrokke was by die eenheid, onder meer Johann van Loggerenberg, voormalige hoof van die eenheid, Ivan Pillay, voormalige waarnemende kommissaris, en Oupa Magashula, voormalige kommissaris.

Ek gaan nie die president voorskryf hoe hy teen Gordhan moet optree nie. Ek glo die president sal in ooreenstemming met die Grondwet optree.
adv. Busisiwe Mkhwebane

In haar verslag het Mkhwebane ook bevind Gordhan het die Nasionale Vergadering om die bos gelei oor ’n ontmoeting met Ajay Gupta. Sodoende het Gordhan die etiese kode van die uitvoerende gesag oortree, sê die OB.

Een van haar aanbevelings is dat ’n strafregtelike ondersoek binne twee maande begin na Gordhan, Pillay en ander amptenare verbonde aan die eenheid.

Sy het ook by pres. Cyril Rama­phosa aanbeveel dat daar binne 30 dae met dissiplinêre optrede teen Gordhan begin word weens sy oortredings.

“Ek gaan nie die president voorskryf hoe hy teen Gordhan moet optree nie. Ek glo die president sal in ooreenstemming met die Grondwet optree,” sê sy.

Regter Robert Nugent, wat ’n kommissie van ondersoek na die SAID gelei het, het verlede jaar beslis die “geheime eenheid” is wettig bedryf. Boonop het regter Frank Kroon, voormalige voorsitter van die SAID-raad, verlede jaar voor dié kommissie getuig hy was verkeerd met sy vroeëre bevinding dat die eenheid onwettig was.

Mkhwebane meen haar verslag is verhewe bo Nugent se beslissing, hoofsaaklik “omdat die Nugent-kommissie nie die kwessie so deeglik soos die OB ondersoek het nie”.

Meer oor:  Said  |  Jan Taks  |  Ob  |  Ivan Pillay  |  Pravin Gordhan  |  Adv. Busisiwe Mkhwebane  |  Jacques Pauw  |  Theo Venter  |  Verslag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.