Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OB ‘wou korrupte Vrede-projek toesmeer, nie ondersoek’

Die openbare beskermer (OB) wou die Vrede-suiwelprojek waarin die Vrystaatse regering R350 miljoen gepomp het, eerder help toesmeer as om dit behoorlik te ondersoek en die skuldiges aan die pen te laat ry.

So het dr. Roy Jankielsohn, DA-koukusleier in die Vrystaatse wetgewer, op ’n nuuskonferensie in Bloemfontein oor die OB, adv. Busisiwe Mkhwebane, gesê.

Busisiwe Mkhwebane

Jankielsohn het gepraat oor die beslissing van regter Ronel Tolmay in die hooggeregshof in Pretoria dat Mkhwebane haar plig versuim het om die Guptas se Vrede-suiwelprojek behoorlik te ondersoek.

Hy sê dié hofuitspraak is van kardinale belang.Die hof het ook bevind dat Mkhwebane se verslag ongrondwetlik en ongeldig is, het Jankielsohn gesê.

Netwerk24 het intussen berig Mkhwebane oorweeg die moontlikheid om teen die uitspraak te appelleer, of om aansoek te doen vir regstreekse toegang tot die konstitusionele hof.

Jankielsohn het op die nuuskonferensie gesê terwyl die omstrede Vrede-suiwelprojek van 2013 af vir ses jaar lank die onderwerp van ondersoek van die OB was, is dit ’n skande dat die verslag nou eerder ’n poging blyk te wees om politici te beskerm en die skandaal toe te smeer.

Hy sê die korrupte suiwelprojek is eers deur die vorige OB, adv. Thuli Madonsela, ondersoek.

“Pleks daarvan dat Mkhwebane op die verslag van Madonsela voortgebou het, het sy met haar eie, nuwe verslag begin. Die idee wat ’n mens kry, is dat sy eerder wou help toesmeer as om die skuldige politici aan die pen te laat ry.

“Sy het as’t ware Madonsela se verslag ondermyn en sleutelaspekte daarvan weggelaat.”

Mkhwebane het Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier en nou sekretaris-generaal van die ANC, beveel om remediërende stappe by die Vrystaatse departement van landbou in te stel.

Dit terwyl die kontrak vir die Vrede-suiwelprojek in sy, Magashule, se kantoor onderteken is.

Terwyl ’n verslag van die nasionale tesourie ook bevind het dat daar dissiplinêr teen Peter Thabethe, voormalige departementshoof van die Vrystaatse departement van landbou, opgetree moet word, het Mkhwebane hom ook deel van die proses gemaak en gesê hy moet help om remediërende stappe teen skuldige amptenare in die departement in te stel.

Sy het as’t ware Madonsela se verslag ondermyn en sleutelaspekte daarvan weggelaat

Jankielsohn sê op dié manier het Mkhwebane politici soos Magashule en die twee betrokke voormalige LUR’e van die Vrystaatse departement van landbou, Mosebenzi Zwane en Mamiki Qabathe, laat wegkom met die ongerymdhede sonder dat daar tot dusver enige tugstappe teen hulle gedoen is, of teen Thabethe.

“Mkhwebane het eerder gepoog om die korrupsie ongedaan te probeer maak.”

Jankielsohn sê dat die DA in die Vrystaat sal voortgaan om vir geregtigheid te veg en die regerende party verantwoordbaar te hou.

Dit is die sesde administrasie in die Vrystaatse wetgewer ná 1994 wat nou begin.

“Die DA-koukus het ’n bloudruk opgestel vir die amptelike opposisie in die wetgewer waarvolgens die planne vir ’n alternatiewe regering duidelik uiteengesit word.”

Jankielsohn het ’n afskrif van dié bloudruk aan die media oorhandig.Hy sê die DA sal toesien dat uitstaande sake van die Vrystaatse regering se vyfde termyn in die sesde termyn aandag sal geniet.

Die Vrede-suiwelplaas waar die Guptas honderde miljoene rand se staatsgeld geplunder het. Foto: Mlungisi Louw

Dit sluit in:

* die Vrede-suiwelprojek se ondersoeke en vervolging;

* die Ramkraal-wetgewerkompleks waarop R120 miljoen vermors is sonder dat ’n nuwe wetgewergebou ooit gebou is;

* die korrupte asbeskontrakte;* korrupsie met Vrystaatse behuisingskontrakte waar die hele Vrystaat vol HOP-huise is wat óf nie voltooi is nie, óf so swak gebou is dat dit uitmekaarval;

* omstrede pad- en infrastruktuurprojekte;

* die kaping van die provinsie deur tenderpreneurs; en

* die vrae oor Magashule se nalatenskap in die Vrystaat.Die DA, wat van vyf tot ses setels in die Vrystaatse wetgewer gegroei het, sal van dag een af hard werk en strategiese portefeuljes is reeds aan al ses sy wetgewerlede toegeken.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.