Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OBK-verslag wys gebreke uit

Die adjunkminister van finansies moenie langer die voorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) wees nie, beveel die Mpati-kommissie aan.

Veranderinge aan die finansies-portefeulje in die kabinet ná 2015 gedurende die Zuma-bewind het bygedra tot die oneerbaarheid en gebrek aan behoorlike toesig oor beleggings by die OBK, het die kommissie bevind.

“Die adjunkministers van finansies se aanstellings as OBK-voorsitters was dus outomaties omdat hulle die portefeulje beklee het en nie omdat hulle die regte kundigheid het nie,” lui die verslag wat dié week uitgereik is. “Die voorsitter moet onafhanklik en nie-uitvoerend wees en ondervinding en kundigheid hê op die gebied van pensioenfondse, finansies, finansiële markte en bestuur.”

‘Dit toon swak etiek.’

Suid-Afrika het tussen 2015 en Mei 2019 vyf ministers en drie adjunkministers van finansies gehad. Dit het groot onbestendigheid by die tesourie en die instellings in sy invloedsfeer geskep.

Alf Lees, DA-woordvoerder oor die OBK, het in ’n verklaring gesê die kommissie se aanbeveling oor ’n onafhanklike OBK-voorsitter beteken dat die wysigingswetsontwerp oor die OBK wat tans op pres. Cyril Ramaphosa se tafel lê, herroep moet word.

“Die wetsontwerp in sy huidige vorm maak nie voorsiening daarvoor dat ’n onafhanklike voorsitter aangestel moet word nie,” sê Lees. “As die president nie die wetsontwerp terugstuur parlement toe nie, sal sy optrede indruis teen die aanbevelings van die kommissie en die OBK blootstel aan verdere vergrype.”

Ramaphosa het die kommissie van ondersoek na die OBK se doen en late onder leiding van oudregter Lex Mpati in 2018 ingestel. Dit het gevolg ná bewerings van korrupsie, samespanning en ’n reeks onverstandige beleggings wat tot miljarde rande se verliese gelei het.

Die OBK is ’n staatsbeheerde instelling wat bates van R2 130 miljard namens die Staatspensioenfonds, die Werkloosheidsversekeringsfonds en die Vergoedingsfonds bestuur en beleggings namens dié entiteite maak.

Die kommissie het bevind daar was flagrante ongerymdhede in die beleggingskeuses wat die OBK uitgeoefen het wat nepotisme, politieke inmenging en die ongeoorloofde verryking van individue insluit.

Die kommissie het agt transaksies ondersoek waaronder die Sekunjalo-groep van dr. Iqbal Survé, Steinhoff en die VBS Bank. Die transaksies is beklink toe dr. Dan Matjila uitvoerende hoof was. In die verslag van 995 bladsye is bevind Matjila het sy magsposisie misbruik om finansiële hulp en bydraes aan individue, organisasies en selfs Cosatu en die ANC te reël.

Die kommissie het aanbeveel dat al die transaksies tussen die OBK en Survé se Sekunjalo-groep van maatskappye aan forensiese ondersoeke onderwerp moet word.

Matjila se “hegte verhouding” met Survé het ontsettende druk op werknemers van die OBK geplaas om die nodige goedkeuringsprosesse te omseil sodat daar in Survé se maatskappye kon belê word, lui die verslag.

Een van die mees omstrede transaksies was die OBK se belegging in Survé se Ayo in Desember 2017. Matjila het luidens die verslag sonder goedkeuring van belanghebbendes ’n verbintenis onderteken dat die OBK ’n belang van 92% in Ayo teen R43 per aandeel sou koop. In Oktober 2019 het Ayo se aandeelprys gedaal tot R5,60 per aandeel – ’n waardevermindering van 87%. “Dit laat jou wonder of die OBK dié aandele teen ’n billike prys bekom het,” lui die verslag.

Die OBK se belegging in Survé se Independent News was ewe bedenklik. Die kommissie het bevind dié mediagroep het nie sy lening van bykans R1 miljard aan die OBK terugbetaal nie. ’n Ooreenkoms is aangegaan waarvolgens van die skuld omgeskakel is in ’n belang wat die OBK in Desember 2017 in Sagarmatha, nóg ’n maatskappy van Survé, bekom het. “Dit toon swak etiek, oortreding van die wet en regulasies en ’n minagting van die OBK se kliënte.”

Ramaphosa het in ’n verklaring gesê die verslag sal aan die nasionale vervolgingsgesag oorhandig word. Die president het gesê dit is uiters kommerwekkend dat die OBK se beleggingsbesluite tot groot verliese gelei het en dat die organisasie klaarblyklik nie die dringendheid daarvan insien om die geld te probeer verhaal nie.

Joe Maswanganyi, voorsitter van die parlement se staande komitee oor finansies, het gesê die komitee sal aandring op terugvoer van die OBK en tesourie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.