Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OG bevestig Ramkraal-projek was nooit goedgekeur

Die omstrede Ramkraal-projek is nooit deur die Vrystaatse provinsiale regering of die Vrystaatse wetgewer goedgekeur nie.

Dit word bevestig in ’n tussentydse verslag van die ouditeur-generaal (OG) oor dié projek wat Donderdag voor die gesamentlike portefeuljekomitee vir openbare rekeninge en openbare werke in die Vrystaatse wetgewer gedien het.

Opposisiepartylede voor die Ramkraal-tronkgebou. Van links is Wouter Wessels van die Vryheidsfront Plus, Kgotso Morapela van die EFF en dr. Roy Jankielsohn van die DA. Foto: Mlungisi Louw

Die projek sou ’n nuwe wetgewerkompleks by die ou Ramkraal-tronk in Bloemfontein behels. Volgens die OG is

R107 miljoen sover onreëlmagtig aan die kompleks bestee, hoewel daar nog nie ’n sooi gespit of ’n enkele steen gelê is nie.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-LW en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê dié verslag bevestig wat die DA die afgelope vyf jaar blootgelê het.

Hy sê in ’n nuusverklaring die ANC in die Vrystaatse provinsiale regering is weer eens onkant betrap deur die tussentydse bevindings van die OG.

“Die voorsitters van die komitees het onsuksesvol probeer om die opposisielede te fnuik deur vooraf voor te gee dat die bespreking van die verslag ‘in camera’ moet geskied.”

In die tussentydse verslag word onder meer die volgende uitgewys:

  • Behalwe dat die regering en wetgewer nooit toestemming gegee het vir die projek nie, is die standplaas nooit deur die nasionale departement van openbare werke aan die provinsie oorgedra nie. Volgens Jankielsohn impliseer dit dat die provinsiale regering en die wetgewer in alle waarskynlikheid nooit die bedoeling gehad het om die wetgewer-kompleks te bou nie.

  • Geen lewensvatbaarheidstudie is uitgevoer voordat R61 miljoen aan die projek bestee is nie.

  • Konsultante is aangestel op maniere wat afgewyk het van vereiste prosesse en kriteria. Dié konsultante sluit in TKDS Consulting, Babareki Consulting Engineers, Ingcali Consulting Engineers en Rubiquant Quantity Surveyors.

  • Geen diensleweringsooreenkoms is ooit tussen die departement van openbare werke en die konsultante onderteken nie.

  • Die professionele-diensgeld het gestyg soos die projekkoste verhoog het weens onvoldoende projekbestuur en hoër berekenings van bourekenaars. Dit het die konsultante tot voordeel gestrek wie se rekening gegrond was op die waarde van die projek.

  • SA Demolishers is aangestel om geboue te sloop en om ’n veiligheidsheining teen ’n bedrag van R6 471 307 op te rig, hoewel hulle nie aan die vereistes voldoen het nie. Dit blyk ook dat geen omheining opgerig was nie.

  • Die sloping van die geboue het ook plaasgevind sonder dat ’n geldige permit deur die Provinsiale Erfenis-hulpbron-owerheid uitgereik was.

Jankielsohn sê die DA het die afgelope vyf jaar sy kommer oor die projek uitgespreek en vrae gevra.

“Die onwilligheid van die ANC in die wetgewer om die instelling se grondwetlike oorsig-mandaat uit te voer het die integriteit van die instelling nou in gevaar gestel.”

Jankielsohn sê dit het duidelik geword dat die ANC bereid is om kiesers uit te verkoop deur korrupsie toe te smeer en die betrokkenes te beskerm.

Die DA sal voortgaan om korrupsie en wanadministrasie bloot te lê en sal veg om die integriteit en grondwetlike mandaat van die wetgewer te beskerm, sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.