Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OG-personeel gedreig, selfs as gyselaar gehou

Personeel van die ouditeur-generaal (OG) word in die uitvoer van hul pligte landwyd gedreig, geïntimideer en selfs as gyselaar gehou, terwyl pogings ook aangewend word om hulle om te koop waar hul werk korrupsie kan oopvlek.

Die parlement het Vrydag ook gehoor hoe ’n OG-personeellid op ’n werksbesoek aan die Emfuleni-munisipaliteit in Gauteng vroeër vanjaar self by ’n gastehuis geskiet en beroof is.

Die situasie is nou só erg dat Kimi Makwetu, die OG, nasionale ingryping van die parlement en polisie versoek om ouditeurs op hul werksbesoeke aan veral munisipaliteite te beskerm.

Makwetu meen dié kommerwekkende voorvalle kan ook Suid-Afrika se internasionale aansien skade berokken as dit nie gou stopgesit word nie.

Kimi MakwetuFoto: Daily Sun

Hy het dit Vrydag aan die staande komitee oor die OG gesê toe hy saam met genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake oor bogenoemde verslag gedoen het.

Volgens Makwetu het die neiging in 2016 vir die eerste keer kop uitgesteek toe OG-personeel in die Vrystaat gedreig en geïntimideer is en pogings aangewend is om hulle te probeer omkoop.

Dit is egter in die kiem gesmoor nadat dit onder die aandag van die Vrystaatse en nasionale regering gebring is.

“In 2017 het ons personeel ook voorvalle in verskillende provinsies aangemeld. In Mei was daar ook voorvalle in die eThekwini- en die Msunduzi-munisipaliteit in KwaZulu-Natal waar personeel selfs doodsdreigemente gekry het.”

Dan was daar volgens hom ook gevalle in die Tshwane-metro waar ouditeurs as gyselaars gehou is.

“ ’n Voorval wat ons die ergste geskok het, was die een vroeër vanjaar in Emfuleni-munisipaliteit waar ’n personeellid op ’n werksbesoek in ’n gastehuis geskiet en (van skootrekenaars en selfone van R20 000) beroof is. Die persoon herstel nou nog daarvan.”

Die komitee het gehoor dat daar ook ander voorvalle by munisipaliteite in Noordwes was waar OG-personeel ook as gyselaar gehou en hul motors se bande gesny en vensters stukkend geslaan is.

Makwetu meen daar moet dringend ingegryp word omdat onskuldige OG-personeel se lewe in gevaar gestel word.

’n Voorval wat ons die ergste geskok het, was die een vroeër vanjaar in Emfuleni-munisipaliteit waar ’n personeellid op ’n werksbesoek in ’n gastehuis geskiet en (van skootrekenaars en selfone van R20 000) beroof is.

Volgens hom is die aanvalle teen OG-personeel “ ’n misdaad teen die staat” omdat hulle hul grondwetlike verpligtinge uitvoer.

Sitole het aan die komitee gesê bogenoemde voorvalle maak dit duidelik dat daar ’n behoefte is dat die polisie en die OG ’n veiligheidsplan saamstel.

Volgens hom is dit nodig omdat daar ’n risiko van vergelding is, veral omdat ouditeurs weens hul werk korrupsie kan oopvlek.

Die komitee het ook gehoor die polisieondersoeke oor die voorvalle duur voort, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Themba Godi, voorsitter van die staande komitee oor openbare rekeninge, het aan die komitee gesê dit “is ’n verleentheid en skandelik” dat OG-personeel só behandel word.

Nthabiseng Khunou, komiteevoorsitter, het ná die sitting in ’n verklaring gesê bogenoemde voorvalle maak dit duidelik dat “politieke wil en leierskap” op alle regeringsvlakke nodig is om die “kommerwekkende neiging” teen OG-amptenare te stop, omdat dit ook ’n regstreekse aanval op die OG se grondwetlike mandaat is.

“Die komitee het besluit ’n pro-aktiewe veiligheidsaksieplan is nodig, veral noudat munisipale oudits afgehandel word.”

Meer oor:  Kimi Makwetu  |  Ouditeur-Generaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.