Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Omgewingsake: Nuwe minister se plan

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, wil eerder buite die hof met belanghebbendes oor die lugbesoedeling op die Hoëveld in Mpumalanga en in die Vaaldriehoek praat.

Creecy sê in haar eerste verklaring sedert sy sowat twee weke gelede as die nuwe minister aangestel is sy erken ontvangs van die regsdokumente wat deur die Sentrum vir Om-gewingsregte (CER) namens groundWork en Vuka Environmental Justice Movement Action aan haar gestuur is.

Barbara Creecy. Foto: Jabu Khumalo

Verteenwoordigers van dié nieregeringsorganisasies (NRO’s), wat die departement hooggeregshof toe gaan vat, het gister gesê die tyd vir praat is verby.

Hulle sê hulle praat al sedert 2012 oor mense se regte wat op die Mpumalanga-Hoëveld en in die Vaaldriehoek geskend word.

Hulle wys daarop dat Marthinus van Schalkwyk, destydse minister van omgewingsake, die Vaaldriehoek en die Mpumalanga-Hoëveld reeds in 2007 as besoedelingsbrandpunte geïdentifiseer het, maar dat die luggehalte in dié gebiede sedertdien net verder verswak het.

Creecy erken in haar verklaring daar is “uitdagings in die Hoëveld-gebied”.

Volgens haar is sy bewus van die uitgebreide gesprekke wat in die verlede tussen die belanghebbendes en die destydse departement van omgewingsake plaasgevind het.

Dié gesprekke het gelei tot die “hersiening van die huidige luggehaltebestuursplan”.

Dié plan is “ ’n instrument” wat gebruik word om luggehalte mee te meet. Dit kan ook vasstel watter aktiwiteite elke besoedelaar onderneem en of groot nywerhede ooreenkomste met die departement nakom.

“Die plan is om volhoubare en praktiese maniere te kry om die luggehalte te verbeter sodat dit in ooreenstemming met ons grondwetlike pligte is.”

Bobby Peek, direkteur van groundWork, sê in sy reaksie op Creecy se verklaring dit is verblydend dat die minister erken die lug op die Hoëveld van Mpumalanga is besoedel.

“Die tyd vir praat is wel verby. Ons gaan hof toe om ’n bevel te kry dat die departement van omgewingsake wetgewing instel om besoedelaars vas te vat. Tot dusver was dit net ’n gepraat,” sê Peek.

Peek wys daarop dat die NRO’s hulle vyf jaar gelede byna aan die gesprekke onttrek het omdat dit nêrens heen gelei het.

“Ons was wel so verbind tot die proses om die lug skoon te kry dat ons besluit het om met die gesprekke voort te gaan.”

Volgens Peek gaan die NRO’s ook die hof nader om te verklaar dat die lugbesoedelingsvlakke in Mpumalanga en die Vaaldriehoek mense se grondwetlike reg op ’n skoon en gesonde omgewing skend.

Dit is nie duidelik of die departement die hofaansoek gaan teenstaan nie.

Creecy het tot vroeg Julie tyd om die CER, wat die NRO’s bystaan, kennis te gee van haar plan.

Meer oor:  Groundwork  |  Barbara Creecy  |  Mpumalanga  |  Bewaring  |  Kabinet-Profiele  |  Omgewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.