Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ondersoek hoofregter se ‘duiwel-opmerkings’, vra drukgroep

’n Klag is by die Regterlike Dienstekommissie (RDK) teen hoofregter Mogoeng Mogoeng oor sy opmerkings oor “duiwelse entstowwe” ingedien.

Tian Johnson van die drukgroep African Alliance het Woensdag die klag in ’n verklaring namens die groep bevestig.

Dié nie-winsgewende organisasie sê hy beywer hom vir die bevordering van gesondheidsregte. Sedert die begin van die Covid-19-pandemie het die groep ook gehelp om mense bewus te maak van die virus se gevare. Nou help die groep ook om inligting oor die entstof te versprei in afwagting op die bekendstelling daarvan in Suid-Afrika.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng Foto: Elizabeth Sejake

Volgens die groep het Mogoeng se opmerkings, as die land se hoogste regter, die vertroue van die publiek in die entstowwe ondermyn.

Hulle het ’n verklaring van meer as 50 bladsye by die RDK ingedien en vra Mogoeng se “oneerbare gedrag” ondersoek word.

Die klag hou verband met ’n video wat op 10 Desember verlede jaar op sosiale media versprei is. In die video bid Mogoeng dat God enige Covid-19-entstof verwoes wat dalk “met die merk van die duiwel ingespuit is”.

Dit was op ’n dankseggingsbyeenkoms in Thembisa aan die Oos-Rand, waar die regter die hoofspreker was.

Mogoeng het verder gebid en God gevra om Sy engele te stuur om Sy wil af te dwing.

“As daar enige entstof van die duiwel af is wat bestem is om 666 in die lewe van mense in te spuit en om hul DNS te korrupteer, mag dit in die naam van Jesus in die vuur verwoes word.”

Mogoeng het die volgende dag op ’n nuuskonferensie, waartydens die jaarverslag oor die stand van die regbank bekend gestel is, gesê “as daar enige entstof is wat doelbewus geskep is met die doel om mense leed aan te doen, mag daardie entstof nie die daglig sien nie. Dis dieselfde met enige ander medisyne.”

Die regter het toe ook gesê hy sal tot God bid om in te gryp en sulke entstowwe en medisyne te keer.

Sello Chiloane, woordvoerder van die RDK, het Woensdag bevestig dat die klag van die African Alliance ontvang is.

“Die klag sal volgens die voorgeskrewe prosedures van die RDK hanteer word,” het Chiloane gesê.

As daar enige entstof van die duiwel af is wat bestem is om 666 in die lewe van mense in te spuit en om hul DNS te korrupteer, mag dit in die naam van Jesus in die vuur verwoes word.

Hy wou nie bevestig of die klag al aan Mogoeng gestel is nie.

Volgens die drukgroep moes Mogoeng juis versigtig met sy kommentaar gewees het, nie net weens die hoë amp wat hy beklee en sy gepaardgaande aansien nie, maar ook omdat hy geen kennis van entstowwe het nie.

Die regter se ongegronde aansprake was onverskillig en onversoenbaar met iemand in sy amp en druis daarom in teen die gedragskode van die RDK, meen die groep.

Weens die hoofregter se roekelose opmerkings vrees die groep dat meer mense wantrouig oor die entstowwe sal wees en dus makliker vals nuus daaroor sal kan versprei.

“Ons doen nou ’n beroep op die RDK om die klag dringend te ondersoek en te hanteer om die openbare belegging in die Covid-19-entstof te beskerm,” sê die groep.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.