SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
Ondersoek oor seksoortredings in weermag verwelkom

Verkragtings en seksuele uitbuiting deur soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) skaad nie net die beeld van die weermag nie, maar hou ook ’n bedreiging in vir vrouesoldate én burgerlikes in veral buurlande waar die weermag ontplooi word.

Daarom moet Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, en haar departement volgens die parlement voortgaan met hul planne om hierdie euwel in die SANW uit te roei.

Cyril Xaba, voorsitter van die portefeuljekomitee gemoeid met hierdie departement, het dié beroep Dinsdag namens dié komitee op Mapisa-Nqakula gedoen toe hy haar vroeëre aankondiging namens die komitee verwelkom het dat sy ’n span van drie lede saamgestel het om die bewerings van seksuele misbruik en uitbuiting in die weermag te hanteer.

Mapisa-Nqakula het Donderdag in ’n verklaring hieroor gesê dat sy kennis geneem neem van mediaberigte oor die voorkoms van seksuele misdade in die weermag.

“Die aangeleentheid word tans deur die minister se kantoor bekyk. Die minister het ’n span van drie lede onder leiding van Thoko Mpumlwana (adjunkvoorsitter van die kommissie vir geslagsgelykheid) aangestel om al die bewerings van seksuele oortredings in die weermag te ondersoek.”

Nosiviwe Mapisa-NqakulaFoto: Daily Sun

Die aankondiging was ’n dag voordat die Mail & Guardian berig het dat hy in besit is van ’n interne SANW-verslag wat onder meer lui dat sowat 41 soldate die afgelope 18 maande aangekla is van onder meer verkragting en ander seksuele oortredings. Van die sake duur nog voort. Dertien soldate is skuldig bevind en 11 vrygespreek.

Die koerant het ook berig dat seksuele aanranding in die weermag so erg is dat daar in Augustus 2018 ’n konferensie daaroor gehou is. ’n Verslag wat uit die konferensie gespruit het, het ’n donker prentjie geskets van hoe vroue in die weermag seksueel geviktimiseer word deur hul kollegas en bevelvoerders.

Die Mail & Guardian het berig hoe die Verenigde Nasies dit in ’n stadium ook oorweeg het om die SANW permanent uit die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), waar dit met vredesendings help, te onttrek.

Dit veral omdat daar sowat 21 sake aangemeld is van seksuele uitbuiting en aanrandings deur onder meer soldate van die SANW, lugmag en militêre gesondheidsdienste.

Xaba het Dinsdag in ’n verklaring namens die komitee gesê dat institusionele gendergeweld in die weermag iets is wat ’n lang aanloop het en wat ’n gevaar inhou vir vrouesoldate sowel as burgerlikes in ander lande.

Die komitee ondersteun heelhartig die inisiatief waarvan die aankondiging saamval met die veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders.

“Pogings om ’n einde te maak aan geweld teen vroue en kinders is hoog op die parlement se agenda, en militêre oortredings moet nie verskoon word nie.”

Volgens Xaba het die komitee verlede week ’n voorlegging ontvang oor die wetsontwerp oor militêre dissipline wat die militêre hofstelsel sal versterk en geregtigheid vinniger sal laat geskied.

Hy sê die komitee sal die spoedige vordering met die wetsontwerp verseker.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.