Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ondersoek teen stadsbestuurder gevra; ANC sê nee

’n Ondersoek wat teen adv. Tankiso Mea, die Mangaung-metro se stadsbestuurder, oor beweerde misdrywe en wanbestuur by die metro aangevra is, is Vrydagaand ná ’n twee uur lange, hewige debat agter geslote deure, deur die ANC-beheerde raad van die tafel gevee.

Dit was die laaste item op die agenda van die dag se stadsraadsvergadering.

Mxolisi SiyonzanaFoto: Netwerk24

Mxolisi Siyonzana, die speaker, het gesê Volksblad sal dit nie kan bywoon nie omdat dit ’n personeelaangeleentheid is wat bespreek gaan word.

“Maar Mea, wat volgens wet dit ook nie mag bygewoon het nie, is toegelaat om binne die vergadering te wees,” het onthutste opposisieraadslede agterna gesê.

Dirk Kotzé, DA-raadslid, wat die inisiatief vir die ondersoek namens sy party gedryf het, sê ’n formele ondersoek teen Mea kragtens die Wet op Munisipale Stelsels is aangevra.

Hy sê hy is teleurgesteld oor wat gebeur het, maar dat die DA dit nie daar gaan laat nie.

Kotzé sê die ondersoek teen Mea is aangevra oor die 275 rooi vlaggies (bevindings of nie-voldoening aan wetgewing) wat die ouditeur-generaal (OG) in die 2016-’17-ouditverslag van die metro aangebring het.

Kotzé sê daar is ’n ouditaksieplan opgestel om na die bevindings te kyk.

Die DA-raadslede Dirk Kotzé en Johan Pretorius, hoofsweep, wat versoek het dat die stadsbestuurder van die Mangaung-metro, adv. Tankiso Mea, ondersoek moes word.Foto: Facebook

Hy sê van die bevindings is dat Mea al ’n komitee moes aangestel het wat na tendertoekennings sal kyk, wat nie gedoen is nie.

Nog een van die bevindings is dat prestasiebestuur van senior bestuurders nie doeltreffend toegepas word nie.

Hy sê die inligtingstegnologie-stelsel van die metro het glad nie ’n rugsteun-beleidprosedure in plek gehad toe dit verlede jaar in duie gestort het nie.

Daar is verskeie vrae gevra en bevindings gekry oor die sekuriteit van die inligtingstelsel en dit bevraagteken die integriteit van die data, sê Kotzé.

“Die ouditeur-generaal was bekommerd oor krediteure wat nie binne 30 dae betaal word nie. Dit is hoekom daar so ’n groot probleem met Bloemwater is, wat gereeld die water van die metro oor wanbetaling toedraai of waterlewering verminder.”

Kotzé sê as deel van die stadsbestuurder se prestasie-ooreenkoms met die burgemeester, Olly Mlamleli, moes die metropolisiemag ook al reeds aangestel en in plek gewees het, die Bloemfonteinse dieretuin reeds na Kwaggafontein verskuif gewees het en die Arthur Nathan-swembad se opgradering en herstelwerk al klaar gewees het.

Verder moes Mea daarteen gewaak het dat die kredietstatus van die metro afgegradeer word – soos wat die graderingsagentskap Moody’s dit intussen gedoen het.

Hy moes ook toesien dat die metro ’n verbeterde ouditmening kry, wat nie gebeur het nie, sê Kotzé.

“Die raad het ’n jaar gelede besluit dat ’n onafhanklike ombudsman aangestel moes word, wat nie gebeur het nie.”

Kotzé sê die versoek van die DA dat Mea onafhanklik ondersoek moet word, is al op 29 April ingedien.

“Dit is nou al twee maande later en in dié tydperk het Johan Pretorius, die DA se hoofsweep, verskeie versoeke na die speaker gestuur vir ’n vergadering waarop dit bespreek kan word.”

Kotzé sê die ANC het die versoek as ’n mosie hanteer, terwyl dit nie ’n mosie was nie.

Siyonzana sê dit is waar dat die ANC sy meerderheidstem agter geslote deure gebruik het om die saak van die tafel te vee.

“Die ANC se standpunt is dat die versoek voortydig was omdat die OG nog nie sy verslag ter tafel gelê het nie. “Die stadsbestuurder kan nie nou ondersoek word op grond van bevindings in ’n verslag wat nog nie eers ter tafel gelê is nie. Boonop sê die OG ook nie in die verslag dat die stadsbestuurder ondersoek moet word nie.”

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Johan Pretorius  |  Bloemfontein  |  Ondersoek  |  Stadsbestuurder  |  Gevra
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.