Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ondervraer ‘kloof hare,’ kla Jimmy Manyi voor Zondo

’n Hoogs ontevrede Mzwanele (Jimmy) Manyi, voormalige regeringswoordvoerder en later eienaar van die Gupta-koerant The New Age, het ’n ondervraer van die Zondo-kommissie daarvan beskuldig dat sy hare kloof.

Manyi wou talle vrae van adv. Kate Hofmeyr, ondervraer van die kommissie, nie beantwoord nie. Hy het Hofmeyr daarvan beskuldig dat sy hom nie in goeder trou ondervra nie en hare kloof.

Hofmeyr wou meer weet oor die tyd toe Manyi as direkteur-generaal van die departement van arbeid afgedank is.

Manyi het aangevoer hy is nie afgedank nie, maar bloot tydelik geskors. Hy het volgehou dat die destydse minister van arbeid, Membathisi Mdladlana, nie by magte was om hom af te dank nie en dat dit slegs in die hande van die president (oudpres. Jacob Zuma) was om direkteurs-generaal af te dank.

Hofmeyr het hiervan verskil en gesê die inligting wys hy is in die tydperk van November en Desember 2010 afgedank, asook Januarie 2011.

Manyi is gevra of hy Zuma genader het om te help dat hy weer aangestel word.

Manyi sê hy het Zuma se hulp gevra, maar dit was sodat hy kon terugkeer ná sy tydelike skorsing. Dit was in dié tyd dat Themba Maseko as direkteur-generaal van die regering se kommunikasie- en inligtingstelsels (GCIS) uitgeskuif is en Manyi in dié pos aangestel is.

Maseko voer aan dat Zuma die opdrag gegee het dat hy verwyder moet word nadat hy nie geswig het voor die eise van Ajay Gupta om die GCIS se advertensiebegroting na The New Age te kanaliseer nie.

Manyi het ook erken dat hy vir Mildred Oliphant, voordat sy aangestel is as minister van arbeid, op die lughawe gaan voorlê het om haar te vra om sy pos terug te kry. Manyi sê hy het “by kontakte” gehoor sy gaan op die lughawe wees en het daarheen gegaan om met haar te praat.

Manyi het getuig in die daaropvolgende gesprek met Oliphant het sy voorgestel hy moet teen sy afdanking beswaar aanteken.

Hofmeyr het uitgewys Oliphant het in haar getuienis genoem dit was Manyi wat na haar gekom het en aangedui het hy gaan beswaar aanteken en die departement van arbeid hof toe vat.

Manyi het hierop geantwoord dit is korrek, hy sou nie net aanvaar dat hy afgedank is nie en sou nie net met sy hande gevou sit nie.

Hofmeyr het gevra of Manyi enige kontak met Zuma gehad het oor sy situasie, waarop hy geantwoord het hy kon waarskynlik ’n brief aan Zuma geskryf het om hom te vra om tussenbeide te tree, want “die president is immers my werkgewer”.

Later in sy getuienis het Manyi weer vir Hofmeyr gekonfronteer.

“Hoekom maak sy nie net haar punt nie?” het Manyi gevra.

Hierop het adjunk-hoofregter Raymond Zondo gesê dit sal help as hy net antwoord, Hofmeyr weet waaroor sy vrae vra en waarheen die vrae lei. Manyi het steeds aangevoer Hofmeyr vra ’n gelaaide vraag, want sy wil haar punt bewys.

Die kommissie se sittings in Johannesburg is uitgestel tot later in November. Zuma sou volgende week getuig, maar nadat hy gesê het hy is siek, is daar geen getuies wat al vir volgende week geroep kan word nie.

Meer oor:  Staatskaping  |  Jimmy Manyi  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.