Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Onluste in Mangaung dae voor president se besoek
Die Mangaung-metro se Bloemfonteinse hoofkantoor is gesluit nadat oproermakers verwoesting binne gesaai het. Hier staan van die wagtendes buite die ontruimde gebou.

Met gewelddadige onluste en strooptogte wat enkele dae voor pres. Cyril Ramaphosa se besoek op Vryheidsdag aan die Mangaung-metro hier losgebars het, word drastiese ingrypingsmaatreëls deur die regering Vrydag afgewag.

Thembeni (Skully) Nxangisa, Vrystaatse LUR vir die departement samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), het bevestig hy gaan Vrydag drastiese maatreëls op die metroraadsvergadering afkondig, maar hy wou nie vooraf verklap wat dit behels nie.

Die verwoestende betogings het Donderdag in Bloemfontein, Rocklands en Thaba Nchu gewoed.

Die Glaspaleis (Bram Fischer-gebou) in Bloemfontein en metro-streekkantore in Rocklands en Thaba Nchu staan gesluit nadat oproermakers Donderdag die geboue bestorm, van die werkers se klere van hul lyf afgeskeur en hulle met messe en moersleutels uit die geboue verjaag het.

Die noordelike stortingsterrein in Bloemfontein is aan die brand gesteek en by Padkamp, soos die vullisverwyderaars se vergaderplek heet, is hulle verjaag.

Te midde van die warboel het adv. Mzwakhe Mofokeng, aangestelde administrateur van die bankrot Mangaung-metro, boonop gesê die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, het hom in die pad gesteek terwyl hy in sy hospitaalbed met Covid-19 lê. Ntombela ontken dit.

Die bankrot Mangaung-metro-munisipaliteit is al meer as ’n jaar onder administrasie.

Die saal vir kontantbetalings in die Glaspaleis in Bloemfontein het ook deurgeloop.

Terwyl die twis tussen politieke faksies in die ANC weens opstokery verhewig, is die stryd om kontrakte en tenders ook aan die hart van die dreigende wanorde en geweld.

Dit volg ná week lange oproer op verskeie Vrystaatse dorpe waarheen die polisie se eenheid vir openbare orde polisie ontplooi is en die N1-hoofpad sporadies gesluit is.

Mofokeng het uit sy hospitaalbed gesê: “Die premier het my ‘gefire’, terwyl ek kliphard gewerk het om te sorg dat die metro ’n ongekwalifiseerde oudit-opinie kry en sy skuld aan groot debiteure terugbetaal, maar sy los adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, onder wie se leiding die metro in die grond geploeg is, net daar.

“Maar God slaap nie. Hy sien alles. Ek kan nie nou vir myself terugveg nie omdat ek Covid-19 het en net 89% herstel het.”

Volgens Mofokeng is daar steeds mense agter sy bloed aan omdat hy korrupsie oopgevlek en senior ANC-kaders as aanspreeklikes uitgewys het.

Sello Pietersen, woordvoerder van Ntombela, het egter gesê Mofokeng is steeds die provinsiale regering se verteenwoordiger by die metro waarheen hy gesekondeer is. Hy is nie herroep nie.

“Die premier moet heeltyd verseker dat die prestasie van die administrateur na wense is en dat die metro herstel word. Sy sal haar uitvoerende raad inlig as ’n nuwe administrateur aangestel moet word.”

Ace Magashule, Vrystaatse oudpremier en sekretaris-generaal van die ANC, is herhaaldelik deur Netwerk24 gebel vir navraag oor die onluste in Mangaung en die res van die Vrystaat, maar sy telefoon was onbeantwoord.

’n Vroeëre foto van die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, en adv. Mzwakhe Mofokeng, administrateur van die Mangaung-metro, toe hulle die Varsproduktemark in Bloemfontein wou bemark het. Mofokeng sê nou Ntombela het hom in die pad gesteek. Foto: Mlungisi Louw
Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, ontken sy het adv. Mzwakhe Mofokeng as administrateur van die Mangaung-metro afgedank. Foto: Argief

Volgens WhatsApp-boodskappe wat Donderdag in Bloemfontein rondgestuur is, het “die Mangaung Business Forum weer die munisipale werkers geïntimideer”.

Die boodskappe sê ook dat “die Bram Fischer-gebou ontruim en gesluit moes word, terwyl water- en gesondheids-, asook vullisverwyderingsdienste, tot stilstand geknars het”.

’n Werknemer van die metro sê dit is lede van die Mangaung Business Forum, wat strykdeur aandring op kontrakte en tenders van die metro, wat hulle in die Bram Fischer-gebou aangeval het.

“Sowat 200 van hulle, gewapen met messe en moersleutels, het na elke vloer geloop en ons uit ons kantore verjaag. Die sekerheidsdienste moes hulle ingelaat het.

“Dit gaan ook oor faksiegevegte. Een bende steun die stadsbestuurder en een die administrateur. Dit is miskien hoekom hulle so maklik toegang tot die gebou bekom het.”

Die werknemer sê die kontantbetaling-saal is verwoes en mure op ander vloere gebreek.

* In ’n WhatsApp-boodskap vra Vrystaatse ANC’s van “kameraad” Kgalema Motlanthe, ’n eertydse president, om te kom help om die Vrystaat te stabiliseer. Hulle sê so ’n besluit is deur die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC geneem.

Meer oor:  Betogings  |  Cyril Ramaphosa  |  Mangaung
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.