Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staat moet pa staan vir plundertog

’n Twaalfde verdagte is Dinsdagoggend in verband met die beweerde aanhitsing van verlede maand se onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng in hegtenis geneem.

Politici meen egter dit is mosterd ná die maal en eis steeds verantwoording van die regering.

Bheki Cele, minister van polisie.

Bheki Cele, minister van polisie, het Dinsdag in Inanda die inhegtenisneming op ’n mediakonferensie saam met Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, aangekondig.

Oor die 12de verdagte het hy gesê: “Die persoon ontwyk die polisie nou al geruime tyd. Die persoon is waargeneem op baie van die platforms waar aanhitsing plaasgevind het.”

Jackie Shandu (37) het Dinsdag in die landdroshof in Durban verskyn op twee aanklagte van aanhitsing tot openbare geweld. The Witness berig hy is in hegtenis geneem weens sy opmerking “een Indiër, een koeël” in ’n video wat verlede week op sosiale media geplaas is.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) wou egter nie bevestig of dit na hom is wat Cele verwys het nie.

Minstens 340 mense het gesterf in die grootskaalse onluste wat uitgebreek het kort ná oudpres. Jacob Zuma se inhegtenisneming op 7 Julie. Sowat 251 van die slagoffers was in KwaZulu-Natal.

Cele het gesê daar was veral geweld in Phoenix, ’n woongebied noordwes van Durban.

Minstens 36 mense is hier tydens die onluste dood. Dit is weens blote misdadigheid, met elemente van rassespanning.”

Die gemeenskap het eie reg gebruik om die woongebied teen plunderaars te beskerm, het Cele gesê. “Gewapende mense het padblokkades beman. Mense is op grond van hul ras voorgekeer en toegang geweier, aangerand en selfs vermoor.”

Volgens hom sal top-ondersoekbeamptes dié moorde ondersoek.

“Daar is reeds 22 mense in hegtenis geneem op aanklagte van moord, poging tot moord, saakbeskadiging, die besit van ongelisensieerde vuurwapens, asook die besit van onwettige vuurwapens.”

Cele is die land dit verskuldig om antwoorde te gee oor waar die polisie was en hoekom hulle onvoorbereid was op die onluste.

Hy sê ook private veiligheidsmaatskappye word weens hul rol in die onluste in Phoenix ondersoek.

Drukgroepe en politieke partye meen egter Cele en Zikalala moet aanspreeklikheid aanvaar vir hul eie tekortkominge in stede daarvan om van Phoenix die sondebok te maak.

John Steenhuisen, DA-leier, sê rasse-aanhitsing en vingerwys help niemand en gemeenskappe moenie politici toelaat om hulle verder te verdeel nie.

“Cele is die land dit verskuldig om antwoorde te gee oor waar die polisie was en hoekom hulle onvoorbereid was op die onluste.”

Ian Cameron, woordvoerder van Action Society, meen Cele se “kop moet rol omdat hy en die polisie steeds Suid-Afrikaners in die steek laat”.

Volgens hom moet die strafregstelsel geherstruktureer word.

Intussen het meer as 200 ondernemings aangesluit by ActionSA se groepsgeding oor die plundery teen pres. Cyril Ramaphosa, lede van die regering se veiligheidsgroepering, die ANC en ander.

Dié regsgeding sal ’n eerste in sy soort in die demokratiese Suid-Afrika wees.

Volgens die partyleier, Herman Mashaba, moet Ramaphosa, Cele en die res van die uitvoerende gesag pa staan vir die onluste.

“Dis hul wettige plig om reg en orde te handhaaf deur proaktiewe stappe te doen om die oppergesag van die reg en die regte van elke Suid-Afrikaner te beskerm en te bewaar. Hulle het misluk om dié plig na te kom weens hul onvermoë en onbevoegdheid.”

Mashaba het weer ’n geregtelike kommissie van ondersoek geëis om te verseker die voorbokke van die geweld word verantwoordelik gehou. “So ’n ondersoek is nodig om selfs kabinetslede tot verantwoording te roep sodat die ANC nie sy meerderheid in die parlement kan misbruik om enige betekenisvolle ondersoek te verwater nie.”– Dennis Delport, Raymond Willemse, Werner Beukes

Meer oor:  Jackie Shandu  |  John Steenhuisen  |  Bheki Cele  |  Herman Mashaba  |  Phoenix  |  Kwazulu-Natal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.