Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
#OnlusteSA: Mbalula kap ‘celebs van geweld’

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het “glanspersoonlikhede van geweld” gekap vir die opstook van onrus in die land ná die gevangesetting van oudpres. Jacob Zuma.

“Diegene op Twitter en oral anders wat glanspersoonlikhede van geweld was – die gereg moet met hulle afreken,” het Mbalula Vrydag in Kaapstad gesê.

“Laat die gereg diegene byt op wat op die voorgrond was.”

Fikile Mbalula Foto: Gallo Images

Mbalula het op die kantlyn van ’n vergadering om taxi-skietery te stop, gesê onskuldige arm mense is by die stryd ingetrek met die lokaas om kos of huishoudelike items vir hulself te kan gryp.

“Ek is seker daarvan dat hulle welaf is waar hulle ook al is,” het hy gesê oor diegene wat die geweld aangehits het. Padversperrings het sedert verlede Vrydag vinnig geëskaleer na die uitbrand van vragmotors en toe plundery, wat aanvanklik skynbaar verband gehou het met die gevangesetting van Zuma weens minagting van die hof.

Belangrike nasionale vervoerroetes is gesluit, wat die beweging van mense, goedere en voedsel belemmer het.

“Dit is ’n skande dat hulle die naam van (oud)pres. Zuma gebruik om anargie in ons land te bevorder,” het Mbalula gesê.

“Ons sal teen anargie en wetsongehoorsaamheid en dreigemente teen regters staan.

“Hierdie land is nie ’n piesangrepubliek nie. Ons sal ter verdediging daarvan opstaan en verseker dat ons wet en orde in die land bewerkstellig.”

Sedert Zuma verlede Donderdag sy tronkstraf begin uitdien het, het sommige Twittergebruikers boodskappe van steun vir die geweld en plundering geplaas.

Mbalula sê hulle het nie verwag dat die aanvanklike betogings sou eskaleer na die omvang van die plundering wat uiteindelik in Gauteng en KwaZulu-Natal gesien is nie.

“Dit is omdat ons elke dag met protes (geweld) te doen kry, maar ons het nie gedink dat protes van hierdie aard in so iets sou ontaard nie.”

Mbalula het gesê die taxi-konflik in die Wes-Kaap het die potensiaal om buite beheer te raak en moontlik onrus te ontketen.

Hierdie land is nie ’n piesangrepubliek nie. Ons sal ter verdediging daarvan opstaan en verseker dat ons wet en orde in die land bewerkstellig.

Al wat nodig is, is ’n groep opstokers wat een groep mense aanmoedig om ’n winkel vir kos te plunder.

“Misdadigers weet dat dit ’n geleentheid is om ’n pakhuis te plunder, dit is ’n geleentheid om dit en dat te plunder.”

Hy het taxi-operateurs geloof wat besluit het om plundery te voorkom ter wille daarvan om mense se lewensmiddele te beskerm.

“Dit is nie dieselfde as om eie reg te gebruik nie. Dit is ’n daad van burgerskap – verantwoordelike burgerskap.”

Terwyl die Wes-Kaap gespaar is van die plundering en geweld wat in KwaZulu-Natal en Gauteng gesien is, is minstens 80 mense doodgeskiet in die noodlottige geskil oor ’n taxiroete.

Die B37-roete van die Paarl af kan opgeskort word as operateurs nie die vrede vir pendelaars en bestuurders herstel nie.

Soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sou later Vrydag in Kaapstad aankom om te help om orde te bewaar, luidens ’n verklaring van premier Alan Winde.

Hoewel daar nie uitdruklik gesê is dat hulle sal help om onrus te voorkom nie, sal hulle na verwagting die polisie en ander provinsiale owerhede en vrywilligers help met die monitering wat hulle doen, waaronder die monitering van moontlike taxi-skietery.

Meer oor:  Fikile Mbalula  |  Plundery En Geweld  |  Onluste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.