Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Onrus: Só sing die “kwaadstokers” nou

Minstens een van die vermeende kwaadstokers wat die afgelope week se geweld op sosiale media aangehits het, is in Gauteng vasgetrek. Bruce Nimmerhoudt – ’n leidende figuur van die Patriotic Alliance – is Vrydagoggend net voor 02:00 in die oggend in sy huis in Witpoortjie, Roodepoort, in hegtenis geneem op ’n klag van aanhitsing tot openbare geweld.

Andile Lungisa sit Donderdag in ’n vergadering met die Oos-Kaapse taxi-vereniging. Foto: Twitter/ @LThipa/ SAUK

Die polisie beweer Nimmerhoudt het ’n stemboodskap op WhatsApp gesirkuleer waarin hy inwoners aangespoor het tot geweld, veral in die Wes-Randse gebiede van Randfontein, Krugersdorp en Roodepoort.

Dit lui: “Ons vegters het baie goed gevaar in KwaZulu-Natal, hulle het goed gevaar in Johannesburg. Nou gaan ons baie goed vaar aan die Wes-Rand.”

Volgens die polisie het Nimmerhoudt onmiddellik erken dat hy die stemboodskap gestuur het.

Die Patriotic Alliance se leier, Gayton McKenzie, het hierdie bewering ten sterkste ontken.

“Hy word valslik daarvan beskuldig dat hy agter die huidige onrus is wat nou plaasvind.

“Bruce is egter die laaste tyd platgeslaan met Covid, hy het dit baie erg gehad,” sê McKenzie.

“Ons vermoed die opposisie(partye) sit hieragter. Hulle gaan misluk. Ons prokureurs is besig met die saak.

“Ek wil hê julle moet weet Bruce Nimmerhoudt is onskuldig. Ons gaan by hom staan.”

Ngizwe Mchunu. Foto: Facebook

Die Patriotic Alliance, wat gelei word deur McKenzie, ’n veroordeelde bankrower en deesdae motiveringspreker en sakeman, is ’n klein party met net vyf raadslede in munisipaliteite oor die land heen.

Verskeie ander kwaadstokers op sosiale media het die afgelope week van deuntjie verander toe dit duidelik word dat die gereg agter hulle aan is. Onder hulle is:

* Andile Lungisa, voormalige adjunk-jeugleier van die ANC en voormalige raadslid van die Nelson Mandelabaai-metro, het aanvanklik hierdie week die betogings ondersteun.

“Ek sal slegs slaap wanneer oudpres. Jacob Zuma uit die tronk vrygelaat word,” het Lungisa verlede Sondagaand getwiet. Daar is ook beweer dat Lungisa gewelddadige optogte in die Oos-Kaap wou reël. Hy wou onder meer ’n betoging in Gqeberha reël om te eis dat die regters van die konstitusionele hof bedank nadat hulle Zuma tronkstraf van 15 maande opgelê het.

Toe die Oos-Kaapse taxi-vereniging daarvan te hore kom, het hulle Lungisa gekonfronteer en Donderdag op ’n toer na verskeie taxi-staanplekke oor die hele Gqeberha geneem waar hy in die openbaar die onrus en geweld moes veroordeel. Hy moes ook mense aanmoedig om nie ondernemings te plunder nie.

Lungisa, wat uit is op parool nadat hy in Oktober 2016 op ’n raadsvergadering ’n glasbeker oor die DA-raadslid Ryno Kayser se kop gebreek het, se week het egter nie op ’n goeie noot geëindig nie.

Hy is Donderdagmiddag verwittig dat hy uit die ANC geskors is weens sy misdaadgeskiedenis.

* Ngizwe Mchunu, ’n voormalige radio-aanbieder by Ukhozi FM, het verlede Sondag die media in Kwa Mai Mai in Johannesburg toegespreek en die vrylating van Zuma by pres. Cyril Ramaphosa geëis.

As Ramaphosa nie aan die eis gehoor sou gee nie, het Mchunu belowe dat “alle hel sal losbreek”.

Dinsdag het Mchunu egter ’n video op sosiale media uitgereik waarin hy beweer dat hy nou moet wegkruip omdat die polisie hom soek vir die aanhitsing van die geweld.

“Ek maak die video terwyl ek baie emosioneel is. As jy nie kan sien dat ons in ’n burgeroorlog is nie . . . slegs ’n idioot kan dit nie sien nie.

“Op hierdie oomblik is ek besig om te vlug. Ek het nou al vyf pogings tot ’n inhegtenisneming oorleef,” sê Mchunu in die video.

Khumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie, het Vrydag op ’n mediakonferensie gesê die polisie is besig om alle leidrade op te volg oor die 12 kwaadstokers wat hulle geïdentifiseer het en wat waarskynlik agter die betogings en geweld sit.

Sy het bygevoeg dat inhegtenisnemings al oor die naweek kan plaasvind.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.