Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ons geniet kerrie by Guptas, ‘big time’ – Hlaudi voor Zondo

Die wêreld volgens Hlaudi Motsoeneng is gister aan die Zondo-kommissie voorgehou toe dié voormalige bedryfshoof van die SAUK getuig het hoe lekker die kerrie by die Guptas was, die F-simbool wat hy in matriek vir geskiedenis gekry het en dat talent al wat nodig is in die SAUK.

Motsoeneng het sy getuienis begin met ’n omslagtige beskrywing van hoe dit gekom het dat hy in 1995 op ’n aansoekvorm aangedui het hy het standerd 10 – dit was alles die skuld van ’n amptenaar wat in die menslikehulpbronne-afdeling werk.

Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof van die SAUK, by die Zondo-kommissie. Foto: Felix Dlangamandla

‘Marie Swanepoel’ moet skuld kry

Volgens Motsoeneng het hy sedert 1989 as vryskut by die SAUK gewerk. Toe hy later ’n permanente pos kry, moes hy ’n vorm met sy besonderhede invul. Volgens sy getuienis is dit hier waar ’n amptenaar, ene Marie Swanepoel, aan hom gewys het om “10” in die blokkie in te vul waar hy sy kwalifikasie moes aandui, terwyl hy vir vier van sy vakke ’n E-simbool en vir geskiedenis ’n F-simbool (druippunt) gekry het.

Hy het getuig dit was Swanepoel wat gesê het hy moet die vorm invul. Dit was wel hy wat die 10 self ingeskryf het by sy skoolkwalifikasie, het hy erken.

Motsoeneng het getuig hy het vir haar gesê hy het nie matriek geslaag nie.

Zondo het dit aan Motsoeneng gestel dat hy toe sowat 23 was. Al is dit nog jonk, was hy nie tien of 15 jaar oud nie. Hoekom het hy nie vir Swanepoel gesê dit sal verkeerd wees om 10 daar te skryf nie?

Motsoeneng het geantwoord dit was Swanepoel wat gesê het hy moet gaan en sy simbole “kombineer”.

Zondo het die kommissie se beamptes versoek om Swanepoel te soek, en indien moontlik, moet sy voor die kommissie getuig.

Dit gaan oor talent

Motsoeneng het getuig hy wil ook byvoeg dat daar tot vandag toe mense by die SAUK is wat nie matriek het nie.

“Dit gaan oor talent. As jy nie ’n sanger is nie, is jy nie ’n sanger nie. As jy nie kan uitsaai nie, kan jy nie uitsaai nie. Die mense by die SAUK wat die beste presteer, is in die meeste gevalle dié mense met talent,” het hy gesê.

Zondo het hierop geantwoord Motsoeneng hoef hom nie te probeer oortuig van die briljantheid van mense met talent nie. Hy kyk nie neer op mense wat nie matriek het nie.

Dit moet duidelik in ag geneem word in die bedryf waar aangedui word ’n mens het ’n sekere kwalifikasie nodig, het Zondo gesê.

Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof van die SAUK, by die Zondo-kommissie. Foto: Felix Dlangamandla

Gupta-kerrie

Motsoeneng is gevra oor sy besoek aan die Guptas se huis toe hy Lulama Mokhobo, ’n voormalige groephoof van die SAUK, daarheen geneem het om haar aan die Guptas voor te stel.

Motsoeneng het in sy antwoord verwys na die kerriegeregte wat by die Guptas geëet word. “Ons geniet kerrie daar, big time.”

Motsoeneng het getuig hy kan nie tel hoeveel keer hy by die Guptas was nie. “Ek hou van kerrie.”

Hy het gesê die Guptas is nie vriende nie, dit is mense wat hy ken.

Zondo het spesifiek gevra watter soort kerrie dit is, skaap of bees of wat?

Motsoeneng se antwoord was daar is nie vleis in die kerrie nie, maar dit is kerrie.

Zondo het gesê die rede waarom hy die vraag vra, is omdat Vytjie Mentor, gewese ANC-LP, in getuienis voor die kommissie gesê het dat sy by die Guptas kerrie met vleis geëet het. Ajay Gupta het hierop gereageer en gesê hulle is van die Hindoe-geloof en eet nie vleis nie.

Motsoeneng het geantwoord dit is nie kerrie met vleis nie.

’n ‘Afrika- The Bold and the Beautiful’

Oor Motsoeneng se besluit dat alle inhoud van die SAUK 90% plaaslik moet wees, het hy getuig ’n mens moet jou eie mense eerste seën.

Hy het getuig dat die SAUK kunstenaars van die buiteland meer betaal het as plaaslike kunstenaars – “ ’n mens moet eers jou eie plaaslike kinders seën voordat jy buitelanders seën”.

Motsoeneng het getuig op die platteland waar hulle gaan hoor het wat mense wil hê, was die vraag waarom kyk hulle steeds The Bold and the Beautiful. Hy het gesê waarom kan daar nie ’n “Afrika- The Bold and the Beautiful” wees nie.

SAUK gee hom ’n pyn

Motsoeneng het ook getuig hy kry ’n pyn as hy dink aan hoe dit nou by die SAUK gaan.

Hy sê pres. (Cyril) Ramaphosa is nou ’n nuwe president wat inkom en dink alles moet verander word.

“Dit is hoekom die SAUK nie sal regkom nie. Dit is nie nodig om alles te verander nie, behou wat goed is.”

Motsoeneng getuig Woensdag verder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.