SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
Ons is gereed om Johannesburg te regeer, sê EFF

Die Johannesburg-metro stuur op ’n dooiepunt af met die DA, EFF en die ANC wat beplan om elkeen sy eie burgemeesterskandidaat te benoem om die leisels by Herman Mashaba oor te neem.

Dit volg nadat Julius Malema, EFF-leier, Donderdag op ’n mediakonferensie in Johannesburg gesê het die rooi barette wil hul kandidaat aan die stuur van Johannesburg hê.

Die nuwe burgemeester sal op ’n raadsvergadering op 28 November verkies word.

Hy het gesê die EFF kan met die ANC én die DA in die Tshwane-metro saamwerk, op voorwaarde dat hulle sý burgemeesterskandidaat volgende week in die Johannesburgse metro steun.

“Ons sal praat op voorwaarde dat hulle die EFF-kandidaat steun. Ons is gereed om Johannesburg te regeer. Enigeen wat ons steun wil hê, ons is gereed om te luister na wie Johannesburg vat en wie Tshwane vat,” het Malema gesê.

“Wie ook al die EFF in Johannesburg steun, ons sal dieselfde party in Tshwane kan steun. So, ons gaan nou regeer, ons speel nie. Dit is die enigste voorwaarde wat ons het. As dit die ANC is, dan is dit so, as dit die DA is, dan is dit so.”

Dit volg nadat die DA vroeër vandeesweek Johannesburg se burgemeesterskomiteelid vir finansies, Funzela Ngobeni, as die party se burgemeesterskandidaat in Mashaba se plek voorgestel het.

Sedert die verkiesing vir plaaslike regering in 2016 het die DA en die EFF saamgewerk, wat meegebring het dat hulle – in die meeste gevalle – op ’n stem-vir-stem-grondslag in mekaar se guns gestem het.

Verhoudings het egter versuur toe die EFF sy rug op die voormalige burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, Athol Trollip, gedraai het, wat in 2018 tot die beëindiging van sy burgemeesterskap gelei het.

Die Johannesburg-metro het 270 setels en die DA hou 104 daarvan, die ANC 121 en die EFF 30.

Die kandidaat moet 136 stemme kry om die pos van burgemeester te beklee en die EFF het in die verlede die deurslaggewende stem gehad oor wie die stad beheer.

Die DA se nasionale woordvoerder, Solly Malatsi, het gesê gesprekke tussen die EFF en die DA oor die Tshwane-burgemeesterskap “gaan steeds voort”, maar die party gee nie bes oor sy burgemeesterskandidaat vir die Johannesburg-metro nie.

“Ons is besig met ’n proses om ’n opvolger (vir Mashaba) te kry en soos dinge nou lyk, sal dit raadslid Funzela wees. Wat die opmerkings oor Tshwane betref, gaan gesprekke met ons koalisievennote voort, wat die EFF insluit,” het Malatsi gesê.

Die ANC se streeksvoorsitter, Geoff Makhubo, het Malema se voorstel afgemaak. “As jy ’n ooreenkoms wil hê, moet dit ’n Johannesburg-ooreenkoms wees, dit is nie om iemand in dieselfde munt te betaal nie, gee en neem, watter soort ooreenkoms is dit? Soos dinge nou lyk, gaan die ANC op 28 November deelneem,” het Makhubo gesê.

Die politieke ontleder dr. Somadoda Fikeni het gesê Malema moes besef het dat die EFF se invloed as koalisievennoot “uitgeput is” en dat die party al voorheen moes regeer het as hy sy invloed in die land se grootste metro’s wil behou.

“Die EFF het alle ander vlakke van invloed uitgeput en dit kan tot druk van binne af lei. ’n Ander faktor is, soos politieke party aanhou groei, streef mense daarna om hul posisies te behou en die ondersteuning wat daarmee saamgaan. Die EFF is deeglik bewus van al daardie soort kwessies,” het Fikeni gesê.

Die politieke ontleder dr. Ralph Mathekga het gesê die EFF het nou die DA én die ANC met sy eise in ’n hoek ingedryf.

“Hulle is in ’n baie beter posisie as in 2016. Nou weet ons hulle plan is om die stad te beheer. As hulle inderdaad die deurslaggewende stem is, moet hulle weet wat hulle wil hê,” het Mathekga gesê.

Meer oor:  Johannesburg-Metro  |  Tshwane-Metro  |  Herman Mashaba  |  Munisipaliteite  |  Eff  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.