Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Ons kom vir rassiste se grond’, sê BLF-leier

Geklee soos ’n boer – kompleet met ’n kakiebroek en hemp – het Andile Mngxitama, leier van Black First Land First (BLF), Woensdagmiddag by die Verkiesingskommissie (OVK) se hoofkantoor in Centurion opgedaag om sy party se kandidatelys vir die algemene verkiesing op 8 Mei in te dien.

Mngxitama was op die oorlogspad. Hy het in Afrikaans gesê: “Dit is óns land. Ons gaan hom nie koop nie. Ons het hom gekoop met die bloed van ons mense.”

Hy het bygevoeg: “Johan Rupert moet weet ons kom vir die grond van alle rassiste!”

Andili Mngxitama, leier van Black First Land First, voordat hy sy party se kandidatelys by die hoofkantoor van die OVK in Centurion ingedien het. Foto: Deaan Vivier

Hy het sy ondersteuners ’n hele paar keer gelei terwyl hulle “one settler, one bullet!” uitgeroep het.

“Dit is ’n groot dag in die geskiedenis van die land. Dit is die eerste en enigste party wat net na die belange van swart mense omsien.

“Die rassiste het alles in hul vermoë gedoen om ons te keer. Hulle het selfs ons rekeninge laat sluit, maar hier is ons nou,” het Mngxitama gesê.

Die BLF is onlangs ingelig dat sy bankrekening bevries is nadat die party nie ’n kostebevel wat in Desember teen hom gemaak is, nagekom het nie. Die kostebevel spruit uit ’n interdik wat aan die organisasie Sakeliga toegestaan is.

“Die vyand wil nie hê ons moet in die parlement wees nie. As ons in die parlement is, gaan ons nie na die ‘agbare lede van die ander partye’ verwys nie omdat hulle nie agbare mense is nie. Hulle het die swart en arm mense van dié land in die steek gelaat.”

Hy het ook na die ANC en die EFF gekap omdat hulle nie in die huidige sitting van die parlement verseker het onteiening sonder vergoeding word ’n werklikheid nie.

“Die ANC, die EFF en die DA behoort almal aan die banke.”

Andili Mngxitama, leier van Black First Land First, praat met Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, nadat hy sy party se kandidatelys by die OVK ingedien het.Foto: Deaan Vivier

Die BLF-leier het darem ’n paar goeie woorde vir die OVK gehad. “Hulle het ons met respek behandel. Dit moet sekerlik die beste staatsdepartement in die land wees.”

Toe hy ure later uit die gebou kom, is hy skouerhoog deur sy singende ondersteuners rondgedra.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, wat ook daar was om die ANC se kandidatelys in te dien, het op ’n afstand toegekyk, maar het later ’n paar woorde met Mngxitama gepraat. Hy het ook vriendelik met die verteenwoordigers van ander partye gepraat.

Andili Mngxitama, leier van Black First Land First, omhels Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, nadat hy die BLF se kandidatelys by die OVK ingedien het. Foto: Deanne Vivier

Toe Magashule en sy gevolg vroeër by die OVK-kantore aankom, is hy deur joernaliste gepeper met vrae oor die name van omstrede mense soos Malusi Gigaba, Bathabile Dlamini, Nomvula Mokonyane en Mosebenzi Zwane op die ANC se kandidatelys.

Die verteenwoordigers van ander partye het veral die middag in groot getalle opgedaag. Dit sluit die DA, Cope, die IVP en die PAC in.

Stanley Pieterson, leier van die Khoi-San Revolutionary Party, het gesê dié party sal aan die provinsiale verkiesings in die Noord- en Wes-Kaap deelneem.

“Ek glo ons sal help om die ANC tot minder as 50% van die stemme in die Noord-Kaap te beperk. As dit gebeur, sal ons saam met die ander partye wat ten gunste van nasiebou is, in ’n koalisie werk.

“Die ANC en die EFF stel nie in nasiebou belang nie.

“Ons was die laaste jaar in die Nama Koi-munisipaliteit (by Springbok in die Noord-Kaap) in koalisie met die ANC. Dis nou verby, ons gaan nou in koalisie met die DA.

“Die jaar saam met die ANC was ’n jaar saam met die duiwel,” het Pieterson gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.