Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Ons mág nie misluk nie. Ons moet geduldig wees’ – Ramaphosa

As Suid-Afrika nie nou iets doen om die Covid-19-pandemie te stuit nie, sal die virus die land op sy knieë dwing.

Daarom is dit nodig dat die nasionale staat van inperking met twee weke verleng word tot einde April, het pres. Cyril Ramaphosa Donderdagaand aangekondig.

Hy het in ’n televisie-boodskap uit die Uniegebou in Pretoria aan die mense van Suid-Afrika gesê hy besef almal wil terugkeer werk of skool toe en wil aangaan met hul gewone lewens.

Maar dit is belangrik dat die koronavirus eers doelgerig bestry word.

Uit solidariteit met die mense van Suid-Afrika sal sy en die res van die kabinet se salarisse met ’n derde gesny word. Die nege premiers se salarisse sal ook met dié persentasie daal. Die president se eie salaris sal met minstens R80 000 per maand gesny word.

Dié geld sal aan die staat se Solidariteitsfonds oorbetaal word.

Pres. Cyril Ramaphosa Donderdagaand in Pretoria aan die woord. Foto: Presidensie

Ramaphosa het ’n beroep op die private sektor gedoen om dié voorbeeld te volg.

“Ek wil julle vanaand persoonlik bedank vir jul samewerking en opoffering.

“Almal kry swaar. Kinders gaan nie skool toe nie en die ekonomie het tot stilstand gekom.

“Die stryd teen die virus is egter ver van verby. Ons is maar aan die begin van ’n monumentale stryd wat al ons beste pogings verg.

“Ons moet geduldig wees met die inperking, want so kan ons duisende mense se lewens spaar.

“As ons nou die inperking ophef, bestaan die gevaar dat die virus vinnig versprei.

"Dan sal die vordering wat in die laaste twee weke gemaak is, niks beteken nie,” het Ramaphosa gesê.

“Wat wêreldwyd gebeur, is net eenvoudig oorweldigend. Selfs die rykste lande se gesondheidstelsel steier. Dit wys dat die staat van inperking wat ons ingestel het, die regte stap was om te doen.

As ons nou die inperking ophef, bestaan die gevaar dat die virus vinnig versprei. Dan sal die vordering wat in die laaste twee weke gemaak is, niks beteken nie.

“Daar is tans 1 934 mense in Suid-Afrika wat met die virus besmet is. Die groei in die getal besmettings voordat die inperking ingestel is, was gemiddeld 42% per dag. Dit het sedertdien afgeneem tot 4%.

“Maar mense moet steeds nabye kontak vermy. Was jul hande gereeld en moenie dié reëling verslap nie,” het die president bygevoeg.

“Een van die grootste uitdagings wêreldwyd is tans die beskikbaarheid van asemhalingstoestelle (ventilators). Daar is ’n projek begin dat Suid-Afrika sy eie toestelle vervaardig,” sê Ramaphosa.

Hy sê die besluit om die tydperk van inperking te verleng is nie ligtelik geneem nie. Die regering is deeglik bewus van die gevaar wat die virus vir die ekonomie inhou.

“Daarom sal daar ’n omvattende pakket van ekonomiese hulp wees.”

Sowat R2,2 miljard is reeds aan die Solidariteitsfonds geskenk om maatskappye in nood by te staan.

“Alle hulpbronne wat nodig is, moet beskikbaar wees.”

Ramaphosa het ’n beroep op sakeondernemings gedoen om sover moontlik hul verskaffers te betaal sodat dié ook hul koste kan dek en hul werknemers kan betaal.

Verskeie maatreëls is reeds in plek om klein ondernemings te help om staande te bly.

Een van die min voordele van die pandemie is dat Suid-Afrikaners nou saamwerk – oor politieke grense heen.

“Suid-Afrika sal nie weer dieselfde wees ná die koronavirus-pandemie nie. Ons sal moet aanpas by ’n nuwe realiteit.

“Ons moet as ’n eenheid saamwerk om ’n unieke Suid-Afrikaanse antwoord te gee,” sê Ramaphosa.

Oor die volgende twee weke sal die toetsing van mense in gemeenskappe uitgebrei word na veral dié wat die kwesbaarste is en waar die virus vinnig versprei.”

Die president het gesê in die gees van Paasnaweek moet Suid-Afrikaners aan mekaar dink en mekaar ondersteun.

“My boodskap aan julle is: wees sterk.

“Daar word baie van julle gevra, maar dit is ’n saak van oorlewing. Ons kan nie hiermee misluk nie.

“Ek vra God om die mense van Suid-Afrika te seën en hulle te beskerm.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Cyril Ramaphosa  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.