Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Takel onwettige uitvloei van kapitaal uit Afrika – Cyril

Sowat $88 miljard verlaat Afrika volgens syfers van die Verenigde Nasies jaarliks onwettig, het pres. Cyril Ramaphosa Sondag aan die G20-leiersberaad gesê.

Ramaphosa, voorsitter van die Afrika-Unie (AU), het aan die leiers van die wêreld se 20 grootste ekonomieë gesê iets moet dringend aan die onwettige vloei van kapitaal gedoen word omdat dit ’n groot invloed op ontwikkeling in Afrika het.

Die sowat $88 miljard wat die vasteland jaarliks onwettig verlaat, is waarskynlik die helfte van die geld wat Afrika nodig het om sy volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te bereik.

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die naweek se G20-leiersberaad. Foto: Presidensie

Die president het ook aan die G20-leiers gesê Afrika is dankbaar dat die G20-lande steeds daartoe verbind is om dié vasteland te help ontwikkel. Dit sluit in die ontwikkeling van industrialisasie.

Ramaphosa het opnuut gesê die koronavirus hou nie net ’n groot bedreiging vir die gesondheid van mense in Afrika in nie, maar ook vir die vasteland se ekonomie. Dit is ook ’n maatskaplike krisis.

Daarom is hy dankbaar Saoedi-Arabië, wat gasheer was van die aanlyn beraad, het baie klem gelê op die pandemie en wat gedoen kan word om Afrika te help herstel.

Om te herstel en sy volhoubare ontwikkelingsdoelwitte teen 2030 te bereik, sal hy hulp nodig hê.

Dit sluit onder meer in die oordrag van tegnologie en ondersteuning om die vasteland se kapasiteit te verbeter.

Suid-Afrika sien uit daarna om in die toekoms ten nouste met die G20 saam te werk, het die president gesê.

Van die ander onderwerpe waaroor die leiers gepraat het, sluit in toerisme, landbou, die bemagtiging van vroue, onderwys en maniere om korrupsie hok te slaan.

Die G20 bestaan uit 19 lande en die Europese Unie (EU). Die 19 lande is Argentinië, Australië, Brasilië, Kanada, China, Frankryk, Duitsland, Indië, Indonesië, Italië, Japan, Suid-Korea, Mexiko, Rusland, Saoedi-Arabië, Suid-Afrika, Turkye, Brittanje en Amerika.

Die G20-ekonomieë is verantwoordelik vir 85% van die wêreld se bruto binnelandse produk, 80% van wêreldhandel. Hulle verteenwoordig boonop twee derdes van die wêreldbevolking.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.