Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ons moet lewens red, sê Cyril oor troep-ontplooiing
’n Casspir van die SANW Donderdag in Manenberg op die Kaapse Vlakte. Foto: Jaco Marais

Ons moet lewens red, het pres. Cyril Ramaphosa Donderdag oor die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in dele van die Wes-Kaap gesê.

Hulle sal die polisie ondersteun om wet en orde te herstel.

Ramaphosa, wat Donderdag in die Nasionale Vergadering (NV) gepraat het in repliek op die debat op sy begrotingsrede, het daarop gewys dat hy as deel van ’n geïntegreerde benadering om die mees uiterste voorvalle van geweldsmisdaad te takel, die ontplooiing van die SANW goedgekeur het. Dit is om die polisie by te staan in die voorkoming en bekamping van misdaad in die provinsie.

Ingevolge die Grondwet was hy in verbinding met die speaker van die NV en die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies met betrekking tot die SANW se ontplooiing in sekere gebiede in die Wes-Kaap.

“Die lede van die SANW sal ontplooi word om die polisie te ondersteun om wet en orde te herstel in gemeenskappe wat deur bendebedrywighede geterroriseer word. Ons moet lewens red.”

Hy sê die SANW is nie die een van ouds nie.

Inwoners kyk nuuskierig na die weermagsoldate wat Donderdag in Manenberg op die Kaapse Vlakte ontplooi is.Foto: Jaco Marais

“Dit is nie die apartheidstylweermag nie. Die weermag van ouds was die weermag wat in townships ingegaan het en jong mense as teikens gebruik het vir skietery. Dié weermag is die een van ’n demokratiese Suid-Afrika. ’n Weermag wat betrokke was by verskeie vredesendings in Afrika en wat ’n kritieke rol gespeel het in die ondersteuning van die polisie in soortgelyke misdaadbestrydingsoperasies. Ons het een gehad in Gauteng – Operasie Fiela – waaraan lede van die SANW deelgeneem het en saam met die polisie misdadigers uitgeroei het.”

Uiteindelik hang die sukses af van die bydraes en deelname van verskeie staatsinstellings, die burgerlike samelewing en die gemeenskappe wat geraak word, sê Ramaphosa.

Volgens hom is dit belangrik dat lede van die gemeenskap – waar misdaad voorkom – die eerstes behoort te wees om na vore te kom en met die polisie saam te werk.

Julius Malema, EFF-leier, het hom in ’n stadium gebel en ingelig oor ’n misdadiger wat ’n skrikbewind in ’n bepaalde gemeenskap voer. Ramaphosa het die minister van polisie in die gebied ontplooi en ’n gemeenskapsvergadering is gehou, waar iemand opgestaan het en die naam van die persoon genoem het.

“Lede van gemeenskap weet wie die misdadigers is en ons doen nou ’n beroep op gemeenskappe om soos die agbare Malema en daardie persoon op te tree en te sê wat in hul gemeenskappe gebeur. Die misdadiger is dadelik in hegtenis geneem en vrede het in die gemeenskap neergedaal.”

Ramaphosa het geen aanduiding gegee oor wanneer die ontplooiing in die Staatskoerant geproklameer sal word nie.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Soldate  |  Bendes  |  Bendegeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.