Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Ons was te lank stil,’ sê Mashaba met stigting van Action SA

Korruptes, rassiste en “ ’n klompie radikales” kan nie langer namens die mense van Suid-Afrika praat nie, sê Herman Mashaba, leier van Action SA, die nuutste politieke party in die land.

Mashaba, voormalige burgemeester van Johannesburg wat verlede jaar uit die DA bedank het, se party is Saterdag virtueel bekend gestel.

Daar was heelwat tegniese probleme wat volgens Mashaba aan ’n kragonderbreking te wyte was en verrigtinge het sowat ’n driekwartier laat begin.

Tog het daar deurentyd sowat 1 000 mense daarna gekyk en geesdriftig kommentaar gelewer.

Dr. Makhosi Khoza en die korrupsie-fluitjieblaser Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP’s, Mandisa Mashego, voormalige provinsiale voorsitter van die EFF in Gauteng, en die bekende forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan het hul steun aan Action SA toegesê.

Herman Mashaba

Mashaba sê Suid-Afrikaners moet hulle soos een uitspreek teen onder meer rassisme, korrupsie, nepotisme en kaderontplooiing.

“Ons was te lank stil,” sê Mashaba.

Action SA staan vir ’n nierassige toekoms, sosiale geregtigheid en ’n vryemarkstelsel waarin geleenthede vir mense geskep sal word.

Dit sal reggekry word deur onder meer alle struikelblokke in die pad van kleinsake-ondernemings te verwyder en die private sektor as ’n vennoot te beskou in die skep van ’n welvarende Suid-Afrika en nie as ’n vyand nie.

“Die politiek gaan nie oor velkleur nie, maar oor waardes. Ons moet nie stem vir ’n politieke party wat lyk soos ons nie, maar ons moet stem vir dit waarvoor die party staan,” het Mashaba gesê.

“Ons sal nie ’n opposisieparty wees nie. Suid-Afrika het te veel opposisiepartye, maar nie ’n regering in wording nie.

“Die opposisie het Suid-Afrika in die steek gelaat omdat hulle nie wyd aanklank vind nie. Hulle het ook nie die vermoë om die ANC uit die kussings te lig nie.

“Ons sal dít verander. Waar ons volgende jaar deelneem (met die plaaslike verkiesing), sal ons wen,” het Mashaba gesê.

Hy sê dit is die party se doelwit om in 2024 die volgende algemene verkiesing te wen.

Mashaba het erken dit sal geen maklike taak wees om die land weer terug te plaas op die pad van voorspoed nie.

“Ek is bekend as iemand wat bedoel wat ek sê en sê wat ek bedoel: Ek háát korrupsie.

“Suid-Afrika het baie belofte en potensiaal, maar die land word aan bande gelê deur hebsug en korrupsie en die plunder van staatsbronne wat bedoel is vir die lewer van basiese dienste. Ons sal dit verander.”

Volgens Mashaba wil sy party ook die land se arbeidswette hervorm om die wurggreep van vakbonde te verbreek.

“Ons het te make met vakbonde wat die belange van hul lede bo dié van die werkloses stel.”

Die tyd vir kaderontplooiing is verby. Wat die land nou nodig het, is ’n professionele staatsdiens.

Mashaba het ook onderneem dat die onderwysstelsel hervorm sal word om van leerlinge “werkgewers eerder as blote werknemers” te maak.

Om korrupsie en misdaad te bekamp is hoog op Action SA se prioriteitslys. “Ons het meer polisiemanne en polisievroue nodig.”

Spesialis-eenhede moet weer ingestel word en daar moet geen genade vir boosdoeners soos dwelmhandelaars wees nie.

Mense wat hulle aan korrupsie skuldig maak, kan ook geen genade verwag nie, het Mashaba gesê.

Hy het belowe as sy party aan die bewind kom, sal hy toesien dat die Guptas aan Suid-Afrika uitgelewer word en hier teregstaan vir oortredings wat met vermeende staatskaping verband hou.

“Die tyd vir kaderontplooiing is verby. Wat die land nou nodig het, is ’n professionele staatsdiens.”

Mashaba het hom weer sterk uitgespreek teen onwettige immigrante wat Suid-Afrikaners van geleenthede ontneem. Hy het dit egter duidelik gemaak dat hy nie ’n vreemdelinghater is nie.

“Daar is nie plek vir haat in ons party of in ons land nie.”

Dit het volgens hom ook tyd geword vir die land om ’n ander houding teenoor Zimbabwe in te neem – een van harde diplomasie. Hy sê die bates van Zanu-PF se leiers in Suid-Afrika moet bevries word en hulle moet toegang tot die land geweier word.

Die oudsakeman Funzi Ngobeni, die party se operasionele hoof, het gesê 60 000 vrywilligers het reeds hul dienste vir die party aangebied

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.