Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Ons wen nog nie stryd teen korrupsie’ – Batohi

Die stryd teen korrupsie word nog nie gewen nie, het Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, Dinsdag aan die portefeuljekomitee vir justisie gesê.

“Ek moet eerlik wees. Op die oomblik wen ons nog nie die stryd nie.

“Die hoeveelheid werk wat gedoen moet word is astronomies, om die minste te sê. Ons moet die stryd voortsit en ons moet steeds alles in ons vermoë doen om dit te takel.”

Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging. Foto: Gallo Images

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het ook ’n voorlegging aan die komitee gedoen oor wat Andy Mothibi, hoof van die SOE, as “ongehinderde samespanning” tussen private en staatsprokureurs beskryf.

Op die vraag of hulle die stryd teen korrupsie wen, het Mothibi gesê daar was in die verlede ’n neiging tot ’n gebrek aan optrede onder wetstoepassingsagentskappe. Hy sê egter alle agentskappe werk nou hard daaraan om die publiek se vertroue in hulle te herstel. “As dit lyk asof straffeloosheid oorgesien word, blaas dit korrupsie aan.”

Hy sê as diegene wat korrupsie pleeg aanspreeklik gehou word, sal dit ’n duidelike boodskap stuur en help om die geveg te wen.

Kruks van die saak

Glynnis Breytenbach, DA-LP, wou weet of daar genoeg ondersoekers en aanklaers is.

“Dit is regtig die kruks van die probleem,” het Batohi aan Breytenbach, wat self voorheen ’n senior aanklaer was, gesê.

“Tensy die regering op ’n ernstige manier aandag gee aan die gebrek aan mannekrag by die nasionale vervolgingsgesag en die Valke, sal ons nie die stryd wen nie,” sê Batohi.

“Ons is burgers van hierdie land, net soos julle. Ons wil hê dat hierdie sake voor die hof gedaag word en dat mense aanspreeklik gehou word. Ons is woedend oor wat gebeur het.

“Ons is hier om te veg tot die bitter einde toe.”

Batohi sê die vermoë van die direktoraat vir prioriteitsmisdade (die Valke) is ’n groot uitdaging.

“Tensy agentskappe soos die Valke se vermoë opgebou word, gaan ons nie hierdie geveg wen nie. Ons kan nie vergeet wat die afgelope tien jaar gebeur het nie.”

In die proses om die land te herbou, moet die staat se vermoë heroorweeg word, sê sy.

Volgens Batohi is genoeg geld in die begroting aan hulle toegewys om kritieke vakatures te vul, maar nie om alle vakatures te vul of om aanklaers se vermoë te versterk nie. Sy sê dat sy nie ’n begrotingsbesnoeiing weens die Covid-19-pandemie verwag nie.

Die SOE sal wel R10 miljoen van sy begroting moet besnoei, sê Mothibi. Hy meen egter hoewel dit nie ideaal is nie, sal dit hulle nie te veel aan bande lê nie.

Aan die einde van haar voorlegging, voordat sy die virtuele platform verlaat het, het ’n glimlaggende Batohi gesê: “Ek is vol vertroue dat ons hierdie stryd sal wen, maar dit sal ’n taai een wees.”

Bron: News24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.