Oudpres. FW de Klerk se omstrede uitlatings dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom is nie, het Dinsdagmiddag ook in die debat oor die staatsrede in die parlement opgeduik.
Dinsdagmiddag se verrigtinge het beskaafd begin met geen ontwrigting nie. Anders as verlede Donderdagaand toe EFF-LP’s chaos veroorsaak het met hul eise dat De Klerk die parlement moet verlaat en dat Ramaphosa eers vir Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, moet afdank voordat hy met sy staatsrede begin.

Doris Dlakude. Foto: CITY PRESS
De Klerk se uitlatings het Dinsdag in die debat opgeduik toe Doris Dlakude, ANC-adjunkhoofsweep, as eerste spreker in haar toespraak onder meer alle Suid-Afrikaners versoek het om te waak teen die dreigende rassespanning in die land, wat vererger word deur “teenrevolusionêres”, ’n onregstreekse verwysing na die EFF.
“Die uitlatings van FW de Klerk was jammerlik, onsensitief en roekeloos. Hy moes geweet het dat die Verenigde Nasies apartheid as ’n misdaad teen die mensdom verklaar het. Sy uitlatings saai sade van haat en rassisme.”
Dlakude het ’n beroep op alle politieke leiers gedoen om hulle daarvan te weerhou om sulke uitlatings te maak.
Vroeër is berig hoe die FW de Klerk-stigting Maandag egter sy verklaring dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie, onvoorwaardelik teruggetrek het.
De Klerk het in ’n verklaring gesê hy vra om verskoning vir die verwarring, woede en pyn wat dit veroorsaak het. De Klerk sê hy het kennis geneem van die geweldige reaksie ná die EFF se aanval op hom.

Oudpres. FW de Klerk. Foto: Edrea du Toit
John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, het in sy spreekbeurt in die debat gesê Suid-Afrika is by ’n keerpunt “en ons almal kan dit voel. Daar kan egter geen verskoning wees vir wat verlede week tydens die staatsrede gebeur het nie. Meeste van ons het ons geskaam. Ons hoef nie van mekaar te hou nie, maar ons moet respek hê vir die parlementêre reëls.
“Die mense verwag beter van ons, om oplossing vir drukkende probleme te bied en nie om voor televisiekameras te pronk nie.
“Ons moet ’n manier vind om dinge uit te werk. Verlede week se gebeure kan nie weer herhaal word nie. Ons is almal teleurgesteld in die huidige stand van die nasie,” het Steenhuisen gesê.
*Volg Netwerk24 vir meer oor die berig.