Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Onteiening: ANC praat ‘met gesplete tong’

Agri SA veroordeel die optrede van die ANC in die Noord-Kaap ten sterkste en eis ’n onmiddellike herroeping van dié party se “onteieningslys”.

Die ANC in die Noord-Kaap het Donderdag gesê hy is besig met ’n oudit van alle private grond, sowel as grond in staatsbesit.

Dan Kriek, president van AgriSA.Foto: Deaan Vivier

Dit word gedoen sodat die grond spoedig aan mense oorgedra kan word wanneer die proses afgehandel is om art. 25 van die Grondwet te wysig om die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak.

Hulle sê sowat 30 plase is reeds geïdentifiseer.

Naledi Gaosekwe, ’n ANC-woordvoerder in die Noord-Kaap, het vroeër gesê die 30 plase is slegs ’n gedeelte van die plase wat deel uitmaak van die ouditproses wat in Januarie en Februarie begin is en nog nie afgehandel is nie.

Agri SA sê in ’n verklaring hy sal sy lede in die Noord-Kaap verdedig, net soos hy in die Melmoth-saak in KwaZulu-Natal gedoen het.

Pres. Cyril Ramaphosa en topamptenare van die ANC het by herhaling die versekering gegee dat produktiewe plase nie vir onteiening sonder vergoeding (OSV) geteiken sal word nie, aldus die verklaring.

Die organisasie het dit duidelik gestel dat hy enige wysiging aan art. 25 van die Grondwet teenstaan.

“Ons verwag onverantwoordelike stellings in die aanloop tot die verkiesing, maar dié stellings het slegs ten doel om goedkoop politieke punte in te palm,” sê Omri van Zyl, Agri SA se uitvoerende direkteur, in die verklaring.

Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van AgriSA. Foto: Deaan Vivier

AgriSA sal die diplomatieke gemeenskap betrek oor die ANC se ommekeer in sy verklaarde posisie dat hy nie produktiewe landbougrond sal teiken nie.

Hulle vergader Vrydag met John J. Sullivan, Amerika se adjunkminister van buitelandse sake, en sal OSV en die Noord-Kaapse lys bespreek.

“Agri SA vergader met die regering, die ANC en alle ander organisasies met die verstandhouding dat elkeen die regsprosesse en die oppergesag van die reg sal respekteer.”

Dan Kriek, Agri SA se president, het gesê: “Ons beskou die jongste uitspraak van die Noord-Kaapse ANC in stryd met die beginsels. Ons het ’n beroep op die nasionale leierskap van die ANC gedoen om in te gryp.”

Volgens hom sal hulle nie huiwer om te litigeer ten einde private eiendomsregte te beskerm nie, wat hulle as absoluut krities beskou om broodnodige ekonomiese groei in Suid-Afrika te verseker.

Agri SA hoop die ANC in die Noord-Kaap sal tot sy sinne kom. Indien nie, sal Agri SA regstappe doen, lui die verklaring.

Die Suider-Afrikaanse Agri-inisiatief (Saai) het ook sy skok oor die “blatante vergrype” deur die ANC in die Noord-Kaap in ’n verklaring uitgespreek.

Die ANC praat reeds sedert Desember 2017 met ’n gesplete tong oor onteiening. Terwyl Ramaphosa in New York en Davos aan die internasionale beleggersgemeenskap die versekering gee dat eiendomsreg hier veilig is, was daar nog nooit ’n verduideliking van hoe Nkoana Maite-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, die Akkerland-plaas in Limpopo onregmatig teen ’n kwart van die markwaarde onteien het nie, aldus die verklaring.

Volgens Saai het ’n vennootskap tussen AfriForum, Limpopo Landbou, Solidariteit en TLU SA dié onteiening suksesvol omgekeer – tot groot verleentheid van die regering – en kostebevele teen die minister, die grondeisekommissaris en die registrateur van aktes laat instel.

Die ANC in die Noord-Kaap se uitreiking van die lys plaas ’n reusevraagteken oor die integriteit van die ANC se leierskap, asook die party se interne bevelstruktuur, aldus die verklaring.

Meer oor:  Agri Sa  |  Noord-Kaap  |  Grondonteieing  |  Anc  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.