Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Onteiening: Beswaar oor tydsberekening met konsepwet

Ondanks kommer van Agri SA en sekere opposisiepartye oor die publikasie – oor die feestyd – van konsepwetgewing om voorsiening te maak vir grondonteiening sonder vergoeding, het die parlement besluit om daarmee deur te druk.

Lede van die parlementêre ad hoc-komitee wat daarmee gemoeid is om die wetgewing te skryf om art. 25 van die Grondwet te wysig, het Dinsdag te midde van besware uit opposisiebanke besluit om die voorgestelde wysigings van die parlementêre regsdienste na hul onderskeie koukusse te neem vir oorweging.

Die 18de Wysigingswetsontwerp sal dus later vandeesmaand vir openbare kommentaar gepubliseer word. ’n Tweede publikasie daarvan sal in Januarie volg.

Ingevolge die voorgestelde wysigings moet art. 25 (2) (b) gewysig word om dié paragraaf in te sluit:

  • “Op voorwaarde dat in ooreenstemming met subartikel (3A) mag ’n hof, waar grond en enige verbeteringe daarop onteien word vir die doelwitte van grondhervorming, bepaal dat die vergoedingsbedrag nul is.”
  • Subartikel (3) moet gewysig word om te lui: “Die vergoedingsbedrag soos beoog word in subartikel (2) (b) en die tyd en manier van enige betaling moet billik en regverdig wees; ’n gelyke balans reflekteer tussen die openbare belang en die belange van diegene wat geraak word en alle relevante omstandighede in ag neem insluitende –”; en ook dat:
  • “Nasionale wetgewing moet, onderhewig aan subartikels (2) en (3) die spesifieke omstandighede uiteensit waarin ’n hof mag bepaal dat die vergoedingsbedrag nul is.”

Voordat die parlementêre regsdienste dié voorgestelde wysigings aan die komitee voorgelê het, het dr. Mathole Motshekga, komiteevoorsitter, gesê dat Agri SA ’n brief aan hom gerig het waarin dié organisasie sy kommer uitspreek oor die publikasie van die konsepwetsontwerp oor die feestyd. Die organisasie het versoek dat die komitee ’n tydperk van drie maande beskikbaar stel vir openbare vergaderings buite die feestyd.

Ons moet baie versigtig wees en seker maak ons maak nie enige foute nie.

Reëls van die Nasionale Vergadering maak voorsiening vir die publikasie van ’n wetsontwerp minstens 30 dae voordat die wetsontwerp bekend gestel word.

Dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF-Plus, het daarop gewys dat dit die eerste keer is dat die Handves van Menseregte in die Grondwet sedert 1996 gewysig word.

“Ons almal weet Suid-Afrika kom tot ’n stilstand vanaf 1 Desember. Selfs al is regsdienste tegnies korrek, sal ek argumenteer dat die persepsie daarbuite is dat ons dié tydsraamwerk skeduleer om dit so moeilik as moontlik te maak vir die lede van die publiek om te reageer.

“As daar ’n versoek is vir ons om na die tydsraamwerk te kyk, sal ek voorstel dat ons dit doen. Dit behoort nie ’n impak op die finale sperdatum van die komitee van einde Maart te hê nie. As ons nou voortgaan sal ons in die hande speel van diegene wat die proses in elk geval hof toe gaan neem.”

Adv. Glynnis Breytenbach, DA-LP, het daarop gewys dat die wetgewing uiters belangrik is en ’n groot impak op die samelewing in sy geheel sal hê.

“Ons moet baie versigtig wees en seker maak ons maak nie enige foute nie. Om vir Suid-Afrikaners voldoende tyd te gee om die wetsontwerp te bestudeer, te verteer, te verstaan en daarop kommentaar te lewer, is baie belangrik.”

Sam Matiase, EFF-LP, het daarop gewys dat daar “vir 367 jaar” gewag is vir dié oomblik.

“Ons is amper daar. Teen die pas waarteen ons beweeg is ons onstuitbaar . . . ons moet verseker dat niemand genot daaruit put om die proses te ontspoor of te saboteer nie,” sê hy.

Motshekga het beklemtoon dat die proses nie van nuuts af begin nie en dat die werk van die komitee vloei uit dié van die grondwetlike hersieningskomitee van die vorige parlementêre termyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.