Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Onteiening: ‘Die bloed sal aan ANC se hande wees’

Die ANC is gewaarsku hy sal moet pa staan as geweld uit sy planne vir grondonteiening sonder vergoeding sou voortvloei.

“As die bloed gaan vloei, sal dit aan die ANC se hande wees!” het adv. Anton Alberts, VF Plus-LP, uitgeroep kort voordat die Nasionale Vergadering Donderdag ’n mosie aanvaar het vir die totstandkoming van ’n ad hoc-komitee wat die wetsontwerp moet skryf om die Grondwet te wysig om grondonteiening sonder vergoeding duidelik daarin uit te stippel.

Alberts het gereageer op Hlengiwe Mkalipi, EFF-LP, wat in die debat gesê het dat die land die afgelope 24 jaar gesukkel het om daadwerklik aandag te gee aan die ongelyke verdeling van grond en dat dit van die “gronddiewe” weggeneem moet word.

Die EFF het voorgestel dat alle grond in private hande voortaan sonder vergoeding onteien moet word en “in die hande van die mense van Suid-Afrika” geplaas moet word. “Nie ’n paar wit mense nie. Jul tyd is om, wit mense!” het sy gesê.

Ons het vir vryheid gestem, nie om slawe te bly nie, maar om meesters van ons eie lot te wees.

Alberts het in sy spreekbeurt gevra: “Wanneer die EFF sê die wit mense se tyd is om, moet julle (met verwysing na die ANC) sê wat hulle bedoel. Gaan hulle ons vermoor en die grond van ons af wegneem? As die bloed vloei, gaan dit aan jul hande wees en sal julle daarvoor moet betaal! So, julle beter wakker skrik oor wat julle doen en julle moet verseker daar is stabiliteit in die land, want volgende jaar gaan julle die verkiesing verloor en die opposisie sal oorneem,” het hy gesê.

Deidre Carter, Cope-LP, het Lechesa Tsenoli, adjunkspeaker, daarvan beskuldig dat hy toelaat dat die EFF rassistiese opmerkings maak en niks daaroor sê nie. Gewone Suid-Afrikaners kan volgens haar die proses stop deur as kiesers vir die 2019-verkiesing te registreer. “Stop die ANC, stop die EFF!” het sy uitgeroep.

Die ANC, EFF, UDM, NFP, AIC en die APC was ten gunste van die mosie, terwyl die DA, IVP, Cope, VF Plus en die ACDP daarteen gestem het.

Mcebisi Filtane, UDM-LP, het gesê die skewe patrone van grondeienaarskap sedert 1652 moet nou reggestel word. “Dié is ’n gesprek oor Suid-Afrika, nie oor die markte nie. Ja, dit maak saak wat die markte dink, maar om volhoubare nasionale eenheid en stabiliteit te bereik, is belangriker as om staat te maak op die reaksie van markte oor kort termyn.”

Sibusiso Mncwango, NFP-LP, het gesê die grond moet teruggegee word aan die mense, terwyl Themba Godi, APC-LP, opgemerk het dat diegene wat gekant is teen die oplossing van die grondkwessie vrede het met die armoede en lyding van swart mense. “Ons het vir vryheid gestem, nie om slawe te bly nie, maar om meesters van ons eie lot te wees,” het hy gesê.

Ingevolge die mosie van Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep, moet die werksaamhede van die komitee teen einde Maart afgehandel wees.

Die ad hoc-komitee sal bestaan uit 11 LP’s wat stemgeregtig sal wees – ANC (6), DA (2) en een elk van die EFF en twee LP’s wat die kleiner partye gaan verteenwoordig. ’n Verdere 14 nie-stemgeregtigde LP’s sal ook in die komitee dien.

Die mosie kom nadat die NV, sowel as die Nasionale Raad van Provinsies, vroeër vandeesweek die finale verslag van die hersieningskomitee aanvaar het.

Meer oor:  Anc  |  Adv. Anton Alberts  |  Hlengiwe Mkalipi  |  Onteiening  |  Grond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.