Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Onteiening: Dit gaan goed eindig, sê Cyril

Organisasies soos AfriForum en ander wat “valshede” oor Suid-Afrika se grondhervormingsplanne oorsee verkondig, se pogings sal op niks uitloop nie, meen pres. Cyril Ramaphosa.

Ramaphosa het Dinsdag tydens ’n mondelinge vrae-en-antwoord-sessie in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) bygevoeg dat daar destyds met die opstel van demokratiese Suid-Afrika se Grondwet net so oorsee “geskreeu en gekla” is, maar dat dit uiteindelik tot ’n “fantastiese bestemming” gelei het.

Pres. Cyril Ramaphosa

Hy het ook vrae beantwoord oor pres. Donald Trump van Amerika se nou omstrede twiet verlede maand waarin hy vir Mike Pompeo, Amerika se minister van buitelandse sake, na ’n nuusberig oor Suid-Afrika se grondhervormingsplanne op die konserwatiewe Amerikaanse TV-kanaal Fox News beveel het om Suid-Afrika se grondplanne en plaasmoorde deeglik te ondersoek.

Volgens Ramaphosa is Lindiwe Sisulu, minister van internasionale verhoudinge en samewerking, daaroor in gesprek met Pompeo, terwyl Suid-Afrika ook ’n amptelike diplomatieke skrywe aan Amerika oorhandig het om die grondkwessie te verduidelik.

Daarby is Suid-Afrikaanse ambassades en hoë kommissarisse wêreldwyd ingelig oor hoe om die grondhervormingsproses in hul gasheerlande te verduidelik.

Sy reaksie oor AfriForum het gekom nadat Tebogo Mokwele, ’n EFF-LP, by Ramaphosa wou weet wat hy gaan doen om die “anargie en arrogansie van verregses” soos AfriForum en ander te stop wat steeds hul “propaganda versprei dat wit boere in die land vermoor word en dat die grondwethersieningsproses die ekonomie negatief sal raak”.

Ramaphosa het gesê Suid-Afrika moet as ’n kollektief seker maak “dat ons getrou bly aan die roete wat ons besluit het om in te slaan.

“Die roete wat ons gekies het, is om grondhervorming te takel deur die strukture en forums wat daarmee handel. Die mees formele een is die parlementêre een waar debatte plaasvind.

“Ek dink dit is waarop ons moet fokus om die valshede en onwaarhede teen te werk van organisasies wat vals stories en fopnuus oor Suid-Afrika wil versprei.

As jy bekommerd is, sal ek sê, moet nie wees nie. Ontspan net. Hierdie proses gaan baie goed eindig.
Pres. Cyril Ramaphosa

“Sulke organisasies word gediskrediteer omdat die waarheid ’n werklikheid word soos regdenkende mense wêreldwyd self die situasie ontleed en oortuig word dat ons verkose roete tot ’n kollektiewe eindproduk sal lei waarby ons almal sal baat vind.”

Ramaphosa het bygevoeg die parlement bespreek tans die demokratiese proses wat aangevul is deur die landwye openbare verhore sowel as politieke partye wat ook aan die proses deelneem.

Hy het gesê Theresa May, Brittanje se eerste minister, en verskeie ander internasionale leiers het in onlangse gesprekke met hom bevestig dat grond ’n historiese probleem en uitdaging is wat getakel moet word, hoewel die stabiliteit in die land in die proses gehandhaaf moet word.

“Ons sal stabiliteit verseker en bewys dat diegene wat saamspan om wêreldwyd leuens oor Suid-Afrika te verkondig, nie die waarheid praat nie. Die waarheid is waarmee die parlement tans besig is.”

Ramaphosa het gesê dit moet nie vergeet word dat daar destyds ook mense was wat oor die Grondwet oorsee “gaan skreeu en kla het dat hul regte geskend sal word.

“Uiteindelik het hul pogings op niks uitgeloop nie omdat ons destyds, net soos nou, ’n reis begin het wat ons na ’n fantastiese bestemming sal lei. Saam gaan ons ’n oplossing vir hierdie probleem vind.

“As jy bekommerd is, sal ek sê, moet nie wees nie. Ontspan net. Hierdie proses gaan baie goed eindig,” het Ramaphosa belowe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.