Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Onteiening gaan almal raak’

Nie net boere nie, maar ook sakelui is bekommerd oor die beoogde Onteieningswet omdat dié wet die staat die reg sal gee om enige eiendom te onteien.

Die grootste werkgewersorganisasie in Suid-Afrika, die National Employers Association of South Africa (Neasa), sê die beoogde wet sal miljoene mense behoeftig laat omdat dit beleggings en ekonomiese aktiwiteite sal rem.

Die ekonoom Mike Schüssler, wat aan die Neasa-mediakonferensie deelgeneem het, sê die wet sal veroorsaak dat die ekonomie verder stagneer en minder mense hul eie ondernemings sal begin. Bestaande ondernemings sal ook nie uitgebrei word nie omdat die wetsontwerp onsekerheid by sakelui veroorsaak.

Die ekonoom Mike Schüssler is nou deel van die Brenthurst Wealth-span. Foto: Verskaf

Neasa sê wanneer wetgewing gebruik word om die ekonomie te ontspoor moet dit as die misbruik van mag bestempel word.

Volgens Gerhard Papenfus, Neasa se uitvoerende hoof, sal die wetsontwerp op verskeie maniere die Suid-Afrikaanse gemeenskap en ekonomie ondermyn.

Dit maak eerstens daarvoor voorsiening dat enige bate sonder vergoeding onteien kan word. Dit ondermyn dus die eiendomsreg van elke sake-eienaar.

Hy sê die doelwit van die wet is die herverdeling van bates en nie restitusie nie. Die wetsontwerp stel die regering in staat om enige eiendom te teiken gegrond op ’n swak gedefinieerde beginsel van “in die openbare belang”.

Papenfus benadruk dit ook dat die wetsontwerp tot hoër inflasie sal lei.

“Vir prysstabiliteit is ’n stabiele en voorspelbare omgewing nodig wat die volhoubaarheid van die ekonomie se waardeketting verseker. Onteiening bedreig dit en skep bykomende risiko’s wat deur die mark verreken sal word.”

Die wanorde wat uit onteiening sal voortspruit, sal maatskaplike spanning en onsekerheid verhoog en sal die oorblyfsels van die postpandemie-ekonomie bedreig.

Onteiening sal almal raak, maar die regering hou vol met sy planne, sê Papenfus.

Vir prysstabiliteit is ’n stabiele en voorspelbare omgewing nodig wat die volhoubaarheid van die ekonomie se waardeketting verseker. Onteiening bedreig dit en skep bykomende risiko’s wat deur die mark verreken sal word.

Schüssler sê ten einde beleggings te bekom benodig burgers sekerheid oor hul regte en eienaarskap. Daarsonder verloor ’n land beleggingsvertroue.

Neasa nooi werkgewers en werknemers om sy voorlegging deur middel van sy webtuiste te ondersteun.

Die DA sê in ’n mediaverklaring hy het reeds meer as 100 000 handtekeninge van mense ontvang wat kapsie teen die beoogde wet maak.

Samantha Graham-Maré, DA-parlementslid en die partywoordvoerder vir openbare werke en infrastruktuur, sê die party is stewig op pad na 150 000 handtekeninge van mense wat teen die beoogde wet beswaar aanteken.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.