Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Onteiening in Grondwet: Proses ‘moet gou klaar wees’

Die onteiening van grond sonder vergoeding is ’n baie sensitiewe aangeleentheid vir landsburgers en daarom moet die parlement sy proses daaroor so spoedig moontlik afhandel.

Dr. Mathole Motshekga Foto: Daily Sun

So het dr. Mathole Motshekga, voorsitter van die ad hoc-komitee wat die proses moet bestuur om die Grondwet te wysig ten opsigte van die onteiening van grond sonder vergoeding, Vrydag op ’n vergadering van dié komitee gesê.

Motshekga het aan LP’s gesê die huidige “spanning in Senekal (in die Vrystaat) wys dat Suid-Afrika as ’n land steeds baie onopgeloste kwessies het wat so spoedig moontlik opgelos moet word”.

“Ons moet dit daarom oplos om te verseker dat daar vrede en maatskaplike samehorigheid in die land is,” het hy gesê.

Die komitee, wat sy werksaamhede teen einde vanjaar moet afhandel, het Vrydag vergader om regskwessies te oorweeg oor of dit prakties uitvoerbaar sou wees om mense met onderliggende siektetoestande wat weens Covid-19 nie in staat sal wees om die oorblywende openbare sittings oor die kwessie in Limpopo en die Wes- en die Noord-Kaap by te woon nie, toe te laat om skriftelike voorleggings te maak.

Die komitee moes ook besluit of bykomende openbare sittings in die Wes- en die Noord-Kaap gehou moet word.

Die komitee is geskeduleer om die openbare sittings op 22 Oktober vanjaar in twee verskillende groepe in Limpopo en die Noord-Kaap te hervat.

Daarna sal dieselfde twee groepe dit van 30 Oktober af opvolg met openbare sittings in die Wes-Kaap.

Ons moet dit daarom oplos om te verseker dat daar vrede en maatskaplike samehorigheid in die land is.

Openbare sittings is reeds in die ses ander provinsies gehou totdat die koronaviruspandemie dit onderbreek het.

Nadat die parlement se regsverteenwoordigers Vrydag ’n regsmening aan die komitee voorgelê het, het Motshekga aan LP’s gesê die gevolgtrekking is onder meer dat die komitee nie hoef voorsiening te maak om mense met onderliggende siektetoestande tydens die openbare sittings te akkommodeer nie.

“Dit keer ons dus nie om voort te gaan met die sittings nie. As LP’s die regsmening bestudeer en ander menings daaroor het, kan ons dit verder bespreek.”

Die komitee het ook besluit om ’n bykomende distrik by sy Noord-Kaapse program in te sluit om voorsiening te maak vir die grootte van hierdie provinsie “en om te verseker dat soveel mense moontlik die kans kry om hul voorleggings te maak”.

Daar is besluit om nie enige bykomende distrikte in die Wes-Kaap by te voeg nie.

“Ons gaan voort met die openbare sittings op 22 Oktober omdat ons die sperdatum moet haal,” het Motshekga gesê.

Meer oor:  Mathole Motshekga  |  Grondonteiening  |  Onteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.