Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Onteiening kan ramp afgee, of SA laat blom

Minder as ’n maand voordat die ANC in Desember op sy Nasrec-konferensie besluit het om ont­eiening sonder vergoeding te ondersoek, het kundiges onder voorsitterskap van oudpres. ­Kgalema Motlanthe bevind dat vergoeding vir onteiening hoegenaamd nie die grootste struikelblok vir die herverdeling van grond is nie.

Pres. Cyril Ramaphosa nadat hy Maandagaand die nuwe kabinet aangekondig het. Foto: Jaco Marais

Die grootste struikelblokke is   toenemende korrupsie deur amptenare, begrotingsgeld vir grondhervorming wat deur elitegroepe afgeskep word en die afwesigheid van politieke wil, lui die Motlanthe-verslag.

Die grondwetlike hersieningskomitee wat teen Augustus moet aandui hoe uitvoering gegee gaan word aan die ANC en EFF se mosie die afgelope week oor grondonteiening sonder vergoeding, sal dié verslag nie kan ignoreer nie, sê kenners.

Hoewel die ANC op die ou end Dinsdag onverwags ’n gewysigde EFF-mosie gesteun het, is betekenisvolle veranderings aangebring aan die EFF se oorspronklike mosie, wat die nasionalisering van alle grond in die land in die vooruitsig gestel het.

Dorris Dlakude, ANC-adjunk-hoofsweep, en Floyd Shivambu,  EFF-hoofsweep, het verlede naweek reeds oor wysigings aan die EFF se voorgestelde mosie onderhandel.

‘Bestaansboere is ’n belangrike skakel.’

Dlakude het gesorg dat al die voorwaardes wat op die ANC se leierskongres in Desember gestel is vir onteiening sonder vergoeding in die mosie ingebou word: dat onteiening net kan gebeur as dit nie die ekonomie ontwrig nie, dit voedselsekerheid verhoog en volhoubaar is.

Dlakude het Shivambu ook oorreed dat die ondersoek deur die parlement se grondwetlike hersieningskomitee gedoen word pleks van ’n ad hoc-komitee, en dat die ondersoek tot einde Augustus eerder as net die einde van April sal duur.

Die ANC-swaargewigte in die komitee is Vincent Smith, wat ook voorsitter is van die portefeuljekomitee vir die ouditeur-generaal, en Francois Beukman, voorsitter van die portefeuljekomitee vir polisie. Albei is baie gematigde, senior LP’s.

Ontleders stem grootliks saam dat grondhervorming die afgelope 23 jaar misluk het, dat herbesinning daaroor noodsaaklik is, en dat miljoene Suid-Afrikaners die eienaars moet word van grond waarop hulle woon en werk.

“Maar die wysigings wat nou oorweeg word, kan maklik private eiendomsreg aantas. Dis strek baie verder as grondbesit en is die hoeksteen van ons ekonomie. Dit sal ’n ramp wees as dit verkeerd loop,” sê dr. Johann Bornman, die landbou-ekonoom wat verlede jaar ’n omvattende oudit vir Landbouweekblad en Agri SA afgehandel het na swart grond­eienaarskap in die landbou.

Julius Malema, EFF-leier.

Bornman glo dit is veral bestaansboere en mense in stede en dorpe vir wie ’n nuwe stelsel van grondbesit geskep moet word.

“Bestaansboere is ’n belangrike skakel in die voedselverskaffingsketting in landelike gebiede waar kommersiële voedselverskaffers glad nie kom nie.

“Hulle het egter geen grondregte, infrastruktuur of toegang tot die netwerke wat kommer­siële boere het nie,” sê Bornman.

“Die regering het in 1994 eienaar geword van 18 miljoen hektaar grond, hoofsaaklik in die voormalige tuislande, en trustgrond. Daarvan is 14,5 miljoen hektaar landbougrond wat deur bestaansboere gebruik word.

“Hulle moet eenvoudig toegang kry tot grond, ook as finansiële instrumente om hul boerderye te ontwikkel,” sê Bornman.

Die Motlanthe-verslag het ook bevind dat tradisionele leiers se houvas op trustgrond enorme frustrasie in plattelandse gebiede skep. Die owerhede misbruik hul magte oor trustgrond en ontneem mense van eiendomsreg, lui die verslag. Die verslag beveel aan dat die enorme Ingonyama-trust, wat die Zoeloe-koning beskermheer maak van alle grond wat aan die ou Natalse regering behoort het, ontbind word.

“Ons sal ’n manier moet kry om mense in die gebiede eienaars van die grond te maak waarop hulle woon en werk. As jy só ’n beleid behoorlik verpak, kan jy dit deurvoer sonder om die stamowerhede heeltemal uit te sny,” sê Bornman.

Hy is nie bekommerd dat kommersiële landbougrond onteien sal word nie. “Kommersiële boere en megaboere het reeds te ver gevorder met swartekonomiesebemagtigingstransaksies.

“Daarin word verskeie modelle gebruik soos gedeelde boerdery-ooreenkomste met plaaswerkers. As jy die helfte van die land se kommersiële plase sou onteien, gaan jy baie meer as die helfte van die land se voedselproduksie verloor,” sê hy.

“Maar as jy oor die volgende vyf tot tien jaar daarin slaag om bestaansboere te help met eiendomsreg en jy maak miljoene stedelinge die eienaars van woonerwe, gaan jy die land onherroepelik verander,” sê Bornman.

Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Agbiz, sê tussen 1,6 miljoen ha en 1,8 miljoen ha onbenutte landbougrond in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en in Limpopo kan in aaneenlopende gebiede herverdeel en ontwikkel word met gedeelde infrastruktuur. Dié grond, met groot landboupotensiaal, kan met die nodige beleggings wel landbouproduksie verhoog.

“Ons debatte moet verskuif na maniere om grond soos hierdie in produksie te bring en seker te maak daar is toegang tot infrastruktuur, dienste en water vir kommersieel lewensvatbare landbou,” sê hy.

In twee van die gebiede, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal, is daar selfs besproeiingsmoontlikhede wat dit uiters gesogte landbougrond maak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.