Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Onteiening moet in middestede plaasvind – Cyril
Pres. Cyril Ramamphosa het Woensdagaand ‘n vraag-en-antwoord-vergadering in die Kaapstadse stadsaal gehou.Foto: Jaco Marais

Grond in middestede en -dorpe moet geïdentifiseer word vir onteiening sonder vergoeding waarop hoëdigtheid-huisvesting ontwikkel kan word sodat gewone Suid-Afrikaners baie nader aan hul werkplekke kan bly, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Hy het Woensdagaand in die Kaapstadse stadsaal ’n saamtrek van tradisionele leiers, professionele mense en sake- en gemeenskapsleiers van oor die Wes-Kaap heen toegespreek as deel van sy ANC-verkiesingsveldtog.

Mense kon hom ook vrae vra.

Die nalatenskap van apartheid:

Ramaphosa het gesê die apartheidsregime het die onderwysstelsel vir swart mense doelbewus verswak en woonbuurte op grond van ras ontwikkel, wat steeds ’n erge impak op die land het.

Pres. Cyril Ramaphosa besoek Khayelitsha. Foto: Jaco Marais

“Apartheid het mense buite middestede laat versprei. Die armes het buite die stad gewoon en rykes binne.”

Suid-Afrika moet soos in ander wêreldstede hoëdigtheid-huisvesting in middestede en -dorpe bou en die regering moet onteiening van grond sonder vergoeding gebruik om grond daarvoor te identifiseer.

“Dit gaan veral die armes se lewenskoste verminder wat dan nie meer ver na hul werkplekke sal hoef te reis nie.”

Ramaphosa het erken dat die infrastruktuur vir openbare vervoer baie swak is en dat dít die ekonomie baie geld kos.

Die regruk van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), waarvan Metrorail ’n filiaal is, is daarom een van sy regering se grootste prioriteite.

Hy het gesê hy en dr. Blade Nzimande, minister van vervoer, het onlangs infrastruktuur vir openbare vervoer bespreek en hulle besef dit moet een van die ontwikkelingsinisiatiewe wees om dit reg te ruk.

“Daar is enorme probleme met Prasa, maar ons sal dit takel.”

Regruk van die SOE’s:

Veral Metrorail in die Wes-Kaap het baie probleme, het Ramaphosa gesê.

Woensdagmiddag het inwoners van Khayelitsha hulle ingelig hoe uiters ondoeltreffend en gevaarlik die treinstelsel hier is.

Pres. Cyril Ramamphosa praat met ’n bejaarde in Khayelitsha. Hy het ook gehelp om pamflette uit te deel.Foto: Jaco Marais

“Sommige treinstasies in die township is selfs gesluit, want mense gebruik dit nie meer nie weens misdaad en die onbetroubaarheid van die treinstelsel. Dit is een van die kwessies waarna ons dringend kyk.”

Prasa was een van die staatsentiteite (SOE’s) wat die ergste onder staatskaping gely het, het hy gesê.

“Daarom is ons besig om na al die wanfunksionele SOE’s te kyk om dit reg te ruk. Die land moet sy vervoerinfrastruktuur dringend verbeter as ons die ekonomie wil laat groei.

Lig aan die einde van die tonnel?

“Ons sal ook die nalatenskap van apartheid hanteer wat ons met swak openbare vervoerinfrastruktuur gelaat het,” het Ramaphosa gesê.

“Daarom gaan ons Prasa regruk. Ons is ingelig dat daar ’n erge tekort aan treine in die Wes-Kaap is. Soms is daar lig aan die einde van die donker tonnel omdat ons drie maande gelede ’n fabriek in Gauteng oopgemaak het wat treine bou.

“Voorheen moes ons dit invoer. Nou bou ons dit. Wat verblydend is, is dat daardie fabriek ook treine vir ander lande op die kontinent sal bou.”

Die regering sal ook talle inisiatiewe ontwikkel om misdaad in die treinstelsel teen te werk, het hy gesê.

“Minder as mens”:

Ramaphosa het die kwessie van plaaswerkers bespreek wat “veral in die Wes-Kaap” deur ernstige probleme in die gesig gestaar word.

“Dit is ’n kwessie wat baie pyn veroorsaak omdat plaaswerkers dikwels mishandel, uitgesit en sleg behandel word. Hulle het baie keer ook nie skole of elektrisiteit nie. In sommige gevalle word hulle as minder as mens behandel.”

Ramaphosa het gesê dat hy bereid is om met plaaswerker-organisasies te vergader om oplossings vir hul probleme te help vind.

Meer oor:  Grondonteiening  |  Cyril Ramaphosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.