Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Onteiening: Moet jy aanhou om verband te betaal?

Suid-Afrikaanse banke maak reeds voorbrand dat verbandskuld steeds betaal moet word indien hul kliënte se eiendom met min of geen vergoeding onteien word nie.

Thoko Didiza, minister van grondhervorming, het in ’n onlangse parlementêre antwoord ’n eenwoord-antwoord gegee op die kwellende vraag oor verbande.

Mike Waters van die DA wou by haar weet of die regering al met banke begin onderhandel het oor verbandskuld, wat die impak op die ekonomie gaan wees en watter bedrag die regering opsy sit om banke te vergoed weens onteiening sonder vergoeding. Didiza se enigste antwoord was “nee”.

Waters sê as banke dink enige regdenkende mens gaan aanhou om vir ’n eiendom te betaal wat genasionaliseer is, lewe hulle in ’n droomland “net soos die ANC en hul vernietigende sosialistiese beleide”.

Haar woordvoerder het aan Business Insider gesê dis omdat die parlement nog besig is met konsultasies oor onteiening sonder vergoeding en die regering sal eers kommentaar lewer wanneer dié proses afgehandel is.

Die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa), die amptelike mondstuk van die land se banke, het egter in vroeëre voorleggings oor die kwessie gesê dis vir hulle duidelik dat die regering bloot wil wegstap van die verband-chaos wat dit gaan ontketen.

Volgens Basa se voorleggings is daar R1,600 miljard se uitstaande verbandskuld en enige onsekerheid oor eiendomme se waardes of hoe dié skuld terugbetaal gaan word, kan die banksektor knak.

Die banke is sterk gekant teen onteiening sonder vergoeding.

Maar in hul voorleggings maak hulle reeds voorbrand om hul eie belange ten koste van hul kliënte s’n te bevorder in geval dit ’n werklikheid word.

Basa maak onder meer die volgende voorstelle oor die konsep-wetsontwerp op onteiening:

  • Die wet moet dit duidelik maak dat die regering eers enige vergoedingsbedrag aan die banke sal oorbetaal vir verbandskuld en nie vir onteiende eienaars nie.
  • Die wetsontwerp maak dit duidelik dat die eienaar wie se eiendom onteien word, moet aanhou betaal vir dienste soos water en ligte en eiendomsbelasting totdat die eiendom amptelik oorgedra is. Basa wil hê die wet moet eienaars dwing om ook hul verbandpaaiemente te betaal.
  • Die wetsontwerp stel dit tans dat alle regte ten opsigte van ’n eiendom – byvoorbeeld ’n serwituut – van krag bly op die onteiende eiendom, maar verbande word uitdruklik uitgesluit.

Basa sê die wetsontwerp beteken eintlik dat die verband net gaan wegval oor die eiendom en hulle maak hewig kapsie hieroor.

“Hoewel die onteiende eiendom onder verband onteien gaan word, onttrek die staat dan net van die gevolge daarvan,” sê Basa.

“Die onteiende eienaar en verbandhouer word maar net gelos met die impak van die eiendom,” lui die voorlegging.

Rapport het verskeie banke genader oor wat hulle meen die skuldenaars wat onteien is, te doen gaan staan.

Nedbank se interpretasie is dat die kliënt steeds die uitstaande skuld gaan moet betaal. Die bank sê die huidige wetsontwerp maak nie voorsiening vir die oordag van ’n kliënt se lening aan die regering in die geval van grondonteiening sonder vergoeding nie.

“Daarom bly die kliënt se verbandlening die onderwerp van ’n kontraktuele ooreenkoms tussen die finansiële instelling en die kliënt.”

Absa het bloot gesê hy ondersteun nie onteiening sonder vergoeding nie.

“Die proses is nog nie deur die parlement afgehandel nie en ons sal aanhou om sterk bydraes te lewer in ooreenstemming met ons standpunt, wat onveranderd bly.”

Standard Bank sê hy ondersteun enige “verantwoordelike” inisiatief om gelykheid en transformasie in die eiendomsmark te bevorder.

“Ons gaan nie kommentaar lewer oor spesifieke kwessie terwyl die parlementêre proses nog aan die gang is nie.”

FNB sê hy monitor deurlopend die ontwikkelinge rondom grondhervorming.

“Die Suid-Afrikaanse regering het die land verseker dat die implementering van grondhervorming die impak op die ekonomie, eiendomsreg, en werk- en voedselsekerheid in ag sal neem. Daarom bly ons optimisties dat die proses op ’n verantwoordelike manier hanteer sal word.”

Hermann Pretorius, veldtogbestuurder by die Instituut vir Rasseverhoudings (IRV), sê banke systap ook die IRV se navrae aan hulle oor die verbandkwessie.

“Die heersende ekonomiese omstandighede gee Suid-Afrikaners genoeg om oor bekommerd te wees sonder dat hulle hul huis of onderneming kan verloor – en boonop die banke betaal vir daardie voorreg.

“Uit die banke se reaksie op die IRV se ope-brief-veldtog is dit duidelik dat hulle nie bereid is om oop kaarte te speel met Suid-Afrikaners nie. Die vraag wat die IRV vra is eenvoudig: sal banke van Suid-Afrikaners verwag om lenings af te betaal op eiendom wat onteien is? Suid-Afrikaners verdien hierop ’n antwoord.”

Waters sê as banke dink enige regdenkende mens gaan aanhou om vir ’n eiendom te betaal wat genasionaliseer is, lewe hulle in ’n droomland “net soos die ANC en hul vernietigende sosialistiese beleide”.

) Die sperdatum vir skriftelike voorleggings rakende die wysiging van die Grondwet is die afgelope week tot 29 Februarie verleng.

Meer oor:  Thoko Didiza  |  Mike Waters  |  Grondwet  |  Grondbeleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.