Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Onteiening sonder vergoeding ‘trek streep deur Grondwet’

“Ons sal nooit onteiening sonder vergoeding aanvaar nie,” sê Piet le Roux, hoof van Sakeliga.

Sakeliga het Dinsdagoggend ’n paneelgesprek gehad waaraan Le Roux, prof. Koos Malan, professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, en Martin van Staden, ’n regsgenoot van Sakeliga, deelgeneem het.

Le Roux sê indien onteiening sonder vergoeding deel van die Grondwet word, sal dit die integriteit van die Grondwet aantas.

Piet le Roux, hoof van Sakeliga, het Dinsdag ’n paneelbespreking oor onteiening sonder vergoeding gelei.

Malan sê onteiening sonder vergoeding in die Grondwet kom op ’n teenstrydigheid neer omdat ’n grondwet aan sekere fundamentele vereistes moet voldoen om dit ’n grondwet te kan noem.

“Deur onteiening sonder vergoeding in die Grondwet op te neem, doen jy afbreuk aan konstitusionele beginsels van die Grondwet,”sê hy.

Hy sê ’n grondwet word vir die staat en die burgers geskryf en as jy sê jy is ’n demokratiese staat met ’n republikeinse grondwet, sê jy ook die burgery is ’n mededeelnemer aan die regering van die land.

Die burgers moet ’n graad van onafhanklikheid hê en oor selfstandigheid beskik om standpunte te hê.

As dit nie so is nie, het jy onderdaanskap en verbruikerskap, iets wat ons al meer in Suid-Afrika sien.

Malan sê die feit dat 18 miljoen mense van die staat afhanklik is, beteken daar is reeds aan hul burgerskap afbreuk gedoen.

“Dit doen afbreuk aan jou burgerskap omdat jy afhanklik van die staat is en jy word ’n verbruiker van die staat,” sê hy.

Hoe meer mense afhanklik van die staat is, hoe meer ontneem jy mense hul burgerskap.

Wanneer jy dan onteiening sonder vergoeding het, beteken dit mense word staatsafhanklike onderdane.

Deur onteiening sonder vergoeding in die Grondwet op te neem, doen jy afbreuk aan konstitusionele beginsels van die Grondwet.

Malan sê sekere aspekte van die Grondwet het reeds dooie letters geword.

Kaderontplooiing is een so ’n voorbeeld.

Dit druis teen die grondwetlike beginsels in, maar tog was pres. Cyril Ramaphosa sedert 2013 voorsitter van ’n komitee wat dit gedryf het, sê Malan.

Hy sê ’n ander aspek van die Grondwet wat in onbruik verval het is burgerlike beveiliging.

Dit is die polisie se plig ingevolge die Grondwet, maar in die praktyk moet burgers hulself al meer beveilig.

Malan sê albei gevalle dui daarop dat die praktyk dikwels sy eie grondwetlike regte skep.

Van Staden sê onteiening as begrip het sy eie regsgeskiedenis en is oor honderde jare gevestig.

Onteiening sonder vergoeding as ’n regsbegrip bestaan nie, dit is beslaglegging of blatante diefstal.

Onteiening deur die staat gaan altyd met vergoeding gepaard.

Hy sê onteiening sonder vergoeding as ’n begrip kan nooit binne die reg bestaan nie, omdat die reg daar is om te beskerm.

Die regering weet hy is met ’n euwel besig, maar probeer maak asof dit ’n geordende proses is, sê Van Staden.

In werklikheid is hy besig met ’n magsvergryp, sê hy.

Meer oor:  Sakeliga  |  Piet Le Roux  |  Onteiening  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.