Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Onteiening: Sperdatum vir insette nié uitgestel

’n Verlenging van die sperdatum waarteen Suid-Afrikaners skriftelik kan reageer op die voorgestelde wysigings van die Grondwet vir grondonteiening sonder vergoeding, is onwaarskynlik.

Dr. Mathole Motshekga, voorsitter van die parlementêre ad hoc-komitee gemoeid met die wysiging van art. 25 van die Grondwet, was Vrydag by navraag duidelik hieroor.

Dit was nadat die Sentrum vir Grondwetlike Regte verbonde aan die FW de Klerk-stigting Motshekga per brief versoek het om die sperdatum van 31 Januarie te verleng.

Ingevolge die voorgestelde wysigings soos vervat in die Agtiende Wysigingswetsontwerp op die Grondwet, moet sekere bepalings van art. 25 gewysig word om onder meer te lui dat ’n hof, waar grond of enige verbeteringe daarop onteien word vir die doelwitte van grondhervorming, mag bepaal dat die vergoedingsbedrag nul is.

Nóg ’n voorgestelde wysiging is dat nasionale wetgewing onder meer die spesifieke omstandighede uiteensit waarin ’n hof mag bepaal dat die vergoedingsbedrag nul is.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Die sentrum het in ’n verklaring sy kommer uitgespreek dat só ’n “kritiek belangrike” wysigingswetsontwerp in Desember – aan die begin van die feestyd – vir openbare kommentaar gepubliseer is. Die meeste sakeondernemings en burgerregteorganisasies sluit oor dié tydperk en het eers weer vroeg in Januarie heropen.

Mathole Motshekga
Dr. Mathole Motshekga Foto: Argief

Agri SA en sekere opposisiepartye het vroeër ook hul kommer uitgespreek oor dié tydsberekening.

Die sentrum het daarop gewys hoewel daar al sewentien wysigingswetsontwerpe is wat wysigings aan die Grondwet voorgestel het, dit die eerste keer is dat daar ’n wysiging van ’n reg in die Handves van Menseregte voorgestel word. “Die Handves van Menseregte vorm die hoeksteen van die demokrasie in Suid-Afrika en dit is dus kardinaal om betekenisvolle openbare deelname te verseker.”

Die komitee beoog om sy werksaamhede en die goedkeuring van die wysigingswetsontwerp in die Nasionale Vergadering (NV) teen 31 Maart af te handel.

Volgens die sentrum kan die proses vir openbare deelname oor die voorgestelde wysigings nie oorhaastig plaasvind nie. “Dit is die eerste geleentheid vir die publiek om insae te lewer oor die formulering van die voorgestelde wysiging aan art. 25 van die Grondwet.

“Die openbare vergaderings wat die parlementêre grondwetlike hersieningskomitee in 2018 onderneem het, is verskillend van die huidige proses omdat dit daarop gefokus het op die menings van die publiek oor die noodsaaklikheid van onteiening sonder vergoeding te kry, en dit nie verband gehou het met die aard van die voorgestelde wysiging nie.

Die sentrum het die komitee aangemoedig – as hy nie sy sperdatum van 31 Maart kan haal nie – om die NV te versoek om die sperdatum te verleng om te verhoed dat die “geleentheid vir betekenisvolle openbare deelname in gevaar gestel word”.

Motshekga het Vrydag by navraag gesê daar is met alle rolspelers oor die tydsraamwerke ooreengekom.

“Ons het nie die sperdatum afgedwing nie. Die proses het in die vyfde parlementêre termyn begin en die mense het vir honderde jare gewag vir die proses, hulle is gelukkig en reageer daarop, daarom gaan ons nie die sperdatum verleng nie. Die gevolge van ’n verlenging sal rampspoedig wees vir Suid-Afrikaners wat gebuk gaan onder die driedubbele uitdaging van ongelykheid, armoede en werkloosheid. Ons kan nie meer wag nie, want alle Suid-Afrikaners is aan boord geneem,” het Motshekga gesê.

Hy het daarop gewys dat die sperdatum nie die einde van die pad is nie aangesien openbare vergaderings vir Februarie beplan word waartydens mense wat steeds voorleggings wil maak, dit kan doen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.