Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Onteiening: VL dien beswaarskrif by parlement in

Die tyd raak min om kapsie te maak teen die regering se beoogde onteieningswet, en Vrystaat Landbou en die VF Plus vra mense om hul insette te lewer oor die voorgenome wet.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), het Dinsdag die parlement besoek om die VL se beswaarskrif en voorlegging teen die onteieningswetsontwerp te oorhandig.

Madeleine Hickling, lid van die staande komitee oor openbare werke en infrastruktuur, het Wilken ontmoet en gereël dat die dokumente per e-pos aan die sekretaris van die komitee gestuur sal word.

Volgens die VL skep die huidige wetsontwerp ’n raamwerk wat die onteiening van bates sonder vergoeding moontlik maak.

“Hierdie wetsontwerp maak voorsiening vir beslaglegging op enige eiendom, nie net grond nie, en moet in sy huidige vorm gestop word,” sê Wilken.

Madeleine Hickling, ’n lid van die staande komitee oor openbare werke en infrastruktuur, het die president van Vrystaat Landbou, Francois Wilken by die parlement ontmoet om die voorlegging en beswaarskrif te ontvang. Foto: Vrystaat Landbou

Die VL beskou talle aspekte van die wetsontwerp as onaanvaarbaar en dat dit inbreuk maak op die burgerlike vryhede van Suid-Afrikaners.

Die nuwe wetsontwerp sal die staat beheer oor alle eiendom gee en munisipaliteite sal die reg hê om die wet toe te pas. Onteiening in die “openbare belang” word te breed gedefinieer.

Wilken sê enige rede kan gegee word om onteiening moontlik te maak. Hy sê indien die wet aanvaar word, sal dit tot die verlaging van die land se kredietwaardigheid lei, kapitaalvlug veroorsaak en die ekonomie laat ineenstort wat al hoe groter armoede sal veroorsaak.

Die VL verteenwoordig 3 400 kommersiële boere en het die breër steun van byna 80 000 Suid-Afrikaners wat die aanlyn versoekskrif onderteken het.

Die VF Plus het ook gevra dat mense aanhou beswaar maak teen die beoogde wetsontwerp.

Die sperdatum vir openbare kommentaar is 28 Februarie en die party sê hoe groter die openbare teenkanting teen die wet, hoe meer sal dit sy hand sterk om die politieke stryd teen die wet te voer.

Dr. Pieter Groenewald, partyleier, sê die wet sal die wese van eiendomsreg in Suid-Afrika aantas.

Hy sê mense moet ook onthou dat dit nie net grond is wat geraak word nie, maar alle private eiendom, roerend, onroerend en selfs intellektuele eiendom.

“Dit is geen geheim nie dat die ANC met begerige oë na grond en pensioenfondse kyk,” sê Groenewald.

Hy sê die ANC kan nie vertrou word met ’n wet waar hy alleen sal kan besluit oor die vertolking van vae omskrywings nie.

Die waarheid is dat onteiening sonder vergoeding en swart ekonomiese bemagtiging enige kans op ekonomiese welvaart tot niet maak.

Mense kan nog aanlyn insette lewer by die volgende skakel: https://www.parliament.gov.za/committee-notice-details/228

Meer oor:  Vrystaat Landbou  |  Francois Wilken  |  Onteiening  |  Insette  |  Beswaarskrif
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.