Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Onteiening: VS-boere moet ‘besin oor hul rol’

Boere in die Vrystaat begin hulle staal vir die verwagte uitwerking van die regering se planne met grondonteiening sonder vergoeding.

Kort ná die uitreiking van die omstrede grondverslag, wat onteiening onder sekere omstandighede voorstel, gaan kommersiële boere Woensdag en Donderdag op Vrystaat Landbou (VL) se jaarlikse kongres ’n toekoms bespreek waarin grond weggevat kan word.

Donker wolke op die horison. Hier keer ’n veewagter op ’n plaas in die Suid-Vrystaat ooie met lammers aan. Vrystaat Landbou (VL) gaan Woensdag op sy kongres in Bloemfontein oor grondonteiening besin.Foto: Charles Smith

Dr. Jack Armour, bedryfsbestuurder van VL, sê die fokus van die kongres sal wees hoe landbouers hulself ten opsigte van die Grondwet kan posisioneer.

“Die tema van die kongres is: ‘Wat is jóú rol in Vrystaat-landbou?’ ”

Die doel van die kongres, sê hy, is om lede aan te moedig om self beheer te neem van hul eie organisasie en hulself op landbouverenigingsvlak te bemagtig.

Prof. Danie Brand van die Vrystaatse Sentrum vir Menseregte aan die UV, wat ’n gasspreker op die kongres sal wees, sê hoewel die wysigings van artikel 25 van die Grondwet net kosmeties sal wees, is daar tog kommer oor die gevolge vir die ekonomie.

“Tog is die ongeluk dat die wysiging van die Grondwet, hoe kosmeties ook al, ’n boodskap uitstuur wat investering in ons ekonomie afskrik. Die enigste manier om dit teë te werk is om aan voornemende beleggers te wys dat die verandering in wese eintlik leeg is.”

Francois Wilken, president van VL, het vroeër gesê as die regering voortgaan met sy proses van onteiening sonder vergoeding, sal dit katastrofiese gevolge vir die landbou inhou.

Wilken sê Frans Cronjé, hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge, is een van die sprekers en gaan praat oor hoe dié wysiging van die Grondwet omgekeer kan word.

Die kongres gaan vir die eerste keer tegnologie inspan wat dit vir besoekers moontlik sal maak om elektronies hul insette en vrae op die kongres te stuur sodat dit daar bespreek kan word.

“Elke ou se stem gaan gehoor word en ons gaan die vrae aan die einde van die dag bespreek.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.