Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Onteieningswet wil eerder eiendomsregte verbreed’
Pres. Cyril Ramaphosa Donderdagmiddag in die parlement besig om repliek te lewer op die debat oor sy staatsrede.Foto: Twitter/Presidensie

Die wysigings aan art. 25 van die Grondwet sal nie eiendomsregte ondermyn nie, maar eerder die eiendomsregte van alle Suid-Afrikaners verbreed.

So het pres. Cyril Ramaphosa Donderdag in sy repliek op die debat oor sy staatsrede in die parlement gesê.

Die president se uitlating kom net ’n dag nadat Mike Pompeo, Amerikaanse minister van buitelandse sake, tydens ’n besoek aan Ethiopië gewaarsku het onteiening sonder vergoeding sal groot skade aan die Suid-Afrikaanse ekonomie aanrig.

Dit sal ook rampspoedig vir Suid-Afrikaners in die algemeen wees, het die Amerikaanse minister gesê wat op sy eerste besoek aan Afrika suid van die Sahara was.

Sonder om na Pompeo se opmerkings te verwys, het Ramaphosa gesê die verandering van art. 25 van die Grondwet gaan oor die uitbreiding van grondregte aan alle Suid-Afrikaners “en nie net aan sommiges soos in die verlede nie”.

“Ons ondersteun die wysiging van art. 25 van die Grondwet en ’n nuwe onteieningswet is op pad.”

Die president het gesê as alle Suid-Afrikaners nie toegang kry tot grond nie, sal die onregte van die verlede nie reggestel kan word nie. Dit sal ook ekonomiese groei in die land beperk.

“Waar ons in die verlede grond aan mense gegee het sonder die nodige ondersteuning, sal ons dit hierdie keer doen.”

Grondhervormingsproses

Die grondhervormingsproses sal grondwetlik en in terme van die landswette plaasvind.

“Grondvergrype sal nie toegelaat word nie,” het Ramaphosa gesê.

Hoewel Pompeo se uitlatings wyd verwelkom is, was daar Donderdag ook skerp kritiek daaroor.

Veral die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en die EFF het dit ten sterkste veroordeel.

Die EFF het in ’n verklaring gesê Pompeo se uitlatings is “konsekwent met die imperialistiese logika”.

Die party sê die onteiening van grond in Suid-Afrika het ten doel “om die fundamentele sonde teen Afrikane reg te stel”.

Geen rekenskap aan VSA nodig

Voorts sê die EFF onder meer ook Pompeo moet verstaan Suid-Afrika hoef nie rekenskap aan Amerika te gee oor sy beleid nie. Daarom sal hy nie inval by “kapitalistiese logika” nie.

Pleks van inmeng in die sake van Afrika, moet Amerika eerder fokus op die “oorlog wat hy voer teen swart Amerikaners en Mexikane”. Amerika het te veel bloed aan sy hande om as die leier van die wêreld en Afrika te wil optree.

Die SAKP het gesê hy verwerp Pompeo se “neo-koloniale agenda”.

Hy sê grondhervorming is nodig omdat “tienmiljoene Suid-Afrikaners op bloedige wyse van hul grond ontneem is sonder om daarvoor vergoed te word”.

Pompeo se besoek is ’n bewys dat hy in Afrika was om Amerikaanse imperialisme op te dwing.

“Suid-Afrika is nie ’n Amerikaanse kolonie of gebied nie. Die SAKP verwerp enige inmenging met minagting.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.